On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agri Hour

SAAI se Theo de Jager ontvang vanjaar se Zimbabwiese Landbou Oscar

───   05:00 Wed, 24 Nov 2021

SAAI se Theo de Jager ontvang vanjaar se Zimbabwiese Landbou Oscar | News Article
Foto: graaffreinetadvertiser.com

Theo de Jager, president van die Wêreld Boere-organisasie en direksievoorsitter van SAAI, het verlede week die 2021 Landbou Oscar-toekenning ontvang.

Sien onderstaande PODCAST

“Die Zimbabwiese Landbou Oscar is 'n prestige toekenning, wat jaarliks tydens die "Commercial Farmers' Union" (CFU) se kongres, in Harare, aan iemand toegeken word wat volgens die boere van Zimbabwe die horisonne van landbou in die land verbreed het,” verduidelik De Jager.

“Dit was vir my 'n groot verassing om verlede week by die 78ste kongres van die CFU hierdie gesogte toekenning te ontvang. Ek het dit bygewoon as 'n spreker en ook om die mandate te hernu. 

"Ek verteenwoordig die Zimbabwiese boere by die Wêreld Landbou-organisasie en ek het die prys hoegenaamd nie verwag of sien kom nie. Die toekenning het gegaan oor twee goed. Dit het gegaan oor my verteenwoordiging vir hulle as 'n stem uit Suidelike Afrika op internasionale platforms. 

"Hulle het in 2017 die mandaat om hulle te verteenwoordig by die Wêreld Landbou-organisasie gegee en die versoek was dat ek by elke geleentheid waar moontlik is, die lot van Zimbabwiese boere - wat hulle grond verloor het in die radikale grondgryp program sedert 2000 - op elke internasionale platform moet uitdra. 

"Dit het ook gegaan oor my betrokkendheid by die soeke na 'n oplossing in daardie land, veral die moontlikheid om vergoeding te kry vir boere wat hul grond verloor het en dit is ter erkenning van daardie twee bydraes wat die toekenning aan my gemaak is,” voeg hy by.

“Terwyl Robert Mugabe nog die president in Zimbabwe was, hier rondom omtrent 2015 en 2016, het ek intens betrokke geraak daardie tyd as president van die Southern African Confederation of Agricultural Unions, 'n sambreel organisasie vir Landbou-unies in Suidelike Afrika,” verduidelik De Jager.

De Jager sê “ek het betrokke geraak by die gesprek tussen die Landbou-unies in Zimbabwe en daar is so 'n stuk van vier van hulle en die Zimbabwiese regering om te kyk hoe 'n mens landbou weer aan die gang kan kry in daardie land. Een van die voorwaardes vir die ontvriesing van die landbousektor is natuurlik dat investering in die land moet in kom, dat daar geld moet beskikbaar wees vir boere om insette te bekostig en te kan plant en daarvoor moet sanksies opgehef word. 

"Daar is geen kans dat daar investering in Zimbabwe kan in kom [nie] voordat die boere wie se gronde gevat is nie daarvoor vergoed is nie...

"Maar toe [Mugabe] ontsetel is 'n jaar of twee later het hierdie gesprek met die Zimbabwiese regering aanvanklik doodgeloop en ek het by die World Economic Forum in 2018 eintlik baie tyd gespandeer saam met die vorige landbou minister Perrance Shiri. Hy het my gevra of ek hom sal vergesel na vergaderings met die Wêreldbank, of ek miskien kan kyk of die Wêreldbank sou bereid wees om hom te sien en ons vergaderings was onsuksesvol.”

Hy voeg by dat daar nie 'n groot aptyt by wêreldinstellings is om Zimbabwe te help nie. 

"Hoofsaaklik as gevolg van die ZDERA sanksies wat nog in plek is en ons het toe gekyk na alternatiewe maniere om vir Zimbabwe toegang te gee tot die tipe van geld wat nodig is om boere te vergoed en dit het aanleiding gegee tot 'n lang uitgerekte gestoei oor die waarde van die grond wat verloor is. 

"Uiteindelik toe daar op waardes ooreengekom is, het dit eintlik 'n klomp ander energie ook los gemaak en uiteindelik op die 30ste Julie 2020 is daar 'n ooreenkoms geteken tussen die boere van Zimbabwe wat hulle grond verloor het en die Zimbabwiese regering, waarin aangedui word dat die Zimbabwiese regering gretig is om hulle te vergoed, maar nie vir die grond nie, net vir verbeterings op die grond en die waarde is ongeveer 5.4 miljard Dollar.

“Die Zimbabwiese regering het aangedui dat hulle nie toegang tot daai soort van geld het nie en dit nie sal kan bekostig nie. So, uiteindelik is daar op 'n bedrag van 3,5 miljard Dollar ooreengekom as volle en finale skikking vir dit wat die boere verloor het en dat die Zimbabwiese regering hulle ook sal ondersteun om by die Britse regering wat ingevolge die Lancaster ooreenkoms onderneem het, om vir die grond deel te betaal om daardie geld by die Britte te gaan soek. 

"Die ooreenkoms staan bekend as die Global Compensation Agreement, maar hy het verval in Julie 2021 en die Zimbabwiese regering het versoek dat hy vir 'n jaar weer hernu word in' n poging om toegang tot die finansiering daarvan te kry,” sluit hy af.



OFM-nuus/Lee Simmons


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.