Arts
Sjaka Septembir nooi skrywers saam op avontuur in Bloemfontein─── ELSABÉ DE JAGER 16:57 Tue, 23 Jan 2024
Hy beplan om elke kursusganger by te staan in die proses van ’n nuwe poëtiese benadering tot die skryf van karakters en plekke.
Mense dink in stories, en ons probeer sin maak van die wêreld deur stories te vertel. So haal Sjaka Septembir, Bloemfonteinse akteur, regisseur en skrywer, die Israeliese geskiedkundige Yuval Harari aan wanneer hy praat oor die waarde van skryfkuns.
Vir Septembir moet ’n storie kan dans, ’n gedig moet die siel laat sing en nuuskierigheid moet een van die hoofbestanddele van skryfkuns wees.
Septembir vertel met geesdrif meer oor die skryfwerkswinkel wat hy van 2 tot 4 Februarie in Melinda Bekker se My Blom-studio buite Bloemfontein aanbied. “In hierdie werkswinkel gaan ons konsentreer op die poëtiese aspekte van skryf.”
Hy beplan om elke kursusganger by te staan in die proses van ’n poëtiese benadering tot die skryf van karakters en plekke. Daar gaan ook met nuwe oë gekyk word na die voorkoms van ritme in skryfwerk, sê hy.
Septembir put inspirasie vir die skryfproses uit dissiplines soos improvisasie, kreatiewe studies en asemhaling. Hy wil hierdie kennis graag deel en elke ervare en ook nuwe skrywer saam met hom op ’n skrywersavontuur en ’n ontdekkingsreis neem.

Die Bloem Klown Troop-groep, met Septembir aan die voorpunt, het Bloemfonteiners oor die vakansietyd vermaak. Foto: Facebook
Hoewel hierdie veelsydige skrywer binnekort Kaap toe verhuis, verseker hy die Bloemfonteiners dat hy altyd sal terugkeer met nuwe skryfidees en werkswinkels.
OFM Nuus/Elsabé de Jager dg
