Arts
Kwesbare menslikheid delikaat vertolk in ‘ ’n Begin’─── 09:59 Thu, 17 Jul 2025

Egte, teer oomblikke word treffend vasgevang in ‘ ’n Begin’ – ’n puik verwerking van die Britse dramaturg David Eldridge se toneelstuk oor twee gebroke mense wat aan die einde van ’n partytjie na mekaar uitreik.
By vanjaar se Vrystaat Kunstefees word Bloemfonteinse gehore bederf met die fyn kuns van teksverwerking, topklas-toneelspel, raak regie en die verplasing van die teks in Afrikaans vir die Suid-Afrikaanse konteks. Dié tweespel word vertolk deur die akteurspaar Carel Nel en Cintaine Schutte, met Tinarie van Wyk-Loots as regisseur en Nico Scheepers as vertaler.
Nel beskryf dit as ’n “wonderlike voorreg” om weer voor sy tuisgehoor op te tree. “Die Scaena- en Wynand Mouton-teaters is regtig, dink ek, die twee beste teaters in die land. Dis wel bietjie meer senutergend om in Bloemfontein te speel, want dit voel so half jy kom huis toe en mense hou jou dop – maar dis baie lekker. Die Vrystaat se mense is so vriendelik.”
Dit was ook uitdagend vir die paar om twee vreemdelinge te speel wat mekaar vir die eerste keer ontmoet. ”Dis so ’n eer om saam met my beste vriend op die planke te kan speel. ’n Mens ken mekaar se mannerismes en jy kan dit op die verhoog sien, maar dan moet jy terugstaan en onthou jy’s nie Cintaine en Carel nie, jy’s Laura en Daniel.”
Hier het Van Wyk-Loots streng reels vir die twee neergelê. “Hulle mag nooit huiswerk by die huis gedoen het nie, net werk in die spasie en nooit met mekaar redikawel nie – net deur my. Op daardie manier was dit net so ’n wonderlike proses.
“Ons het ’n hele week om die tafel gesit en oor en oor gelees, diep gedelf in hierdie ‘gebroke’ mense,” vertel Schutte. “Elke persoon wil maar net gehoor, liefgehê en gesien word. As daai drie goed nie gebeur nie, dan gebeur menslikheid.”
Carel Nel en Cintaine Schutte op die verhoog. Foto: Gys Loubser/Woordfees
Sy sê Eldridge se teks bied ’n intieme blik op alleen wees in ’n era van konstante digitale konneksie. “Dis hoekom hierdie teks so met my gepraat het.”
Van Wyk-Loots sê die stuk is raar: “Dis sulke delikate teater – mense wat net met mekaar praat, sê hoe hulle voel. Ná ’n uur en ’n half voel dit regtig of jy saam met hulle in die sitkamer is. Die spel van die akteurs is die toppunt van die hele stuk.”
“Ek sê die hele tyd vir hulle: ‘Ek is seker julle raak oor en oor op mekaar verlief op die verhoog.’ Carel sê dit is nie so nie, maar ek glo hom nie,” skerts sy.
Cintain Schutte, Tinarie van Wyk-Loots en Carel Nel ná hul eerste vertoning van ‘ ’n Begin’ by die Vrystaat Kunstefees. Foto: OFM
Die akteurs se staal word behoorlik getoets in ’n teks vol pouses en ongemaklike oomblikke. “Mens praat nie konstant nie – daar’s vreemde pouses, lang pouses. Ek dink wat uiteindelik werk, is om net eerlik die karakters te wees. Sodra die gehoor inkoop, gaan hulle saam op reis,” sê Nel.
Van Wyk-Loots voeg by: “Wat dit so ongelooflik outentiek maak, is dat karakters nie altyd onmiddellik reageer nie. Partykeer kom die reaksie op iets wat vroeër gesê is – daar’s misverstande.”
Die stuk plaas eensaamheid en die sukkeltog na verbintenis vierkantig onder die vergrootglas. “Daai soeke na ’n persoonlike konneksie – om net raakgesien te word. Om nie alleen huis toe te gaan nie. Dis soms ’n begin.”
Schutte is ook te sien in Annie + Helen. “Ons kyk na die ongelooflike twee vrouens – Helen Keller en Annie Sullivan. Baie mense ken Helen Keller se storie, maar min weet van juffrou Annie wat haar gehelp het om weer te ‘sien’ – met woorde en taal. Hulle het hul hele lewe saam spandeer. Hulle is selfs langs mekaar begrawe. Ek is baie lucky om deel te wees van hierdie ongelooflike geselskap – dis iets heeltemal anders as ‘ ’n Begin’.”
Van Wyk-Loots bring ook haar solostuk “Speenvark” na die fees. “Ek het afgekom op ’n opstel oor iemand se ervaring op die grens, en dit het my laat dink aan hoe ons, alle Suid-Afrikaners, nog soveel wrewel en bitterheid dra – goed waaroor ons nog nooit gepraat het nie. Ek noem dit ’n worstelende gedig – ’n eksperimentele stuk. Dis ’n intertekstuele verwerking van Hamlet met digters soos Totius, Ingrid Jonker en Yeats. Ek hoop mense kan hulle eie betekenis daarin vind … ek wil sien wat dit julle laat voel.”
Vertonings:
- “ ’n Begin”: 17 Julie om 13:30 en 19 Julie om 20:30 (kykNET Scaena-teater)
- “Annie + Helen”: 17 Julie om 20:30, 18 Julie om 09:00 & 20:30, 19 Julie om 09:30 (ATKV-Wynand Mouton-teater)
- “Speenvark”: 18 Julie om 17:00 en 19 Julie om 13:00
OFM is ’n trotse mediaborg van die Vrystaat Kunstefees.