Arts
Bloemfonteiner wen SA Akademieprys vir vertaalde werk─── 09:00 Tue, 26 May 2026
Naòmi Morgan het Samuel Beckett se oorspronklike teks van ‘Ons wag vir Godot’ se diepte en absurditeit met ‘n fyn balans oorgedra.
Sy sluit by Yolanda Maartens aan in die OFM Kunsteklop om te vertel hoe vertaling werk en wat dit vir Afrikaans beteken. Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs met groot genoeë die wenners van die gesogte Akademie pryse vir 2026 aan gekondig.
Die Vrystaat Kunstefees het die goeie nuus gedeel dat Naòmi Morgan die SA Akademie prys vir vertaalde werk ontvang het vir haar vertaling van die ikoniese boek.
Ons wag vir Godot bring een van die wêreld se mees ikoniese dramas op ’n vars en betekenisvolle wyse na Afrikaanse gehore. Hierdie produksie, wat in Julie 2024 op die Vrystaat Kunstefees sy première gehad het, is die eerste Afrikaanse vertaling wat direk uit die oorspronklike Franse teks vertaal is.

Yolanda Maartens en Naòmi Morgan gedurende haar kuier in die OFM Ateljee.
Die vertaling gee nuwe lewe aan Beckett se tydlose meesterstuk, terwyl dit terselfdertyd ’n viering van Afrikaans as taal is. Die oorspronklike Franse uitgewer, Les Editions de Minuit, het toestemming gegee dat slegs 300 eksemplare deur Naledi gepubliseer mag word – iets wat hierdie uitgawe onmiddellik ’n waardevolle versamelaarsitem maak.
Naòmi Morgan met haar boek ’Ons wag vir Godot’. Foto verskaf
Bekend as “die toneelstuk waar niks gebeur nie”, volg Ons wag vir Godot twee mans wat langs ’n verlate pad wag vir iemand genaamd Godot. Hulle verwyl die tyd met gesprekke, speletjies en eindelose besinning, terwyl die dae verbygaan en Godot nooit opdaag nie.
Tog lê juis daarin die krag van die drama: ’n tragikomedie vol humor, menslikheid en diep nadenke oor hoop, tyd en die sin van bestaan.
Meer as 70 jaar reeds boei die oorspronklike teks wêreldwyd gehore, en nou bied hierdie unieke Suid-Afrikaanse vertaling ’n vars toegang tot Beckett se werk, terwyl dit ook hulde bring aan die rykdom en veerkragtigheid van Afrikaans.
