Central SA
Nie nét vroue kry borskanker nie─── HEIDRÈ MALGAS 10:07 Wed, 19 Oct 2022

Oktober is Borskankerbewusmakingsmaand, en nie baie mense weet hoe om die proses te hanteer nie.
Die Hoof van Onkologie aan die Universiteit van die Vrystaat, prof. Alicia Sheriff, wil die publiek bewus maak van die risiko's van borskanker en dat mense moet gaan vir die nodige toetse. Hulle moet ook deeglik bewus wees van die feit dat dit mans en vrouens is wat borskanker kan kry.
“Mans loop ook die risiko om borskanker te kry en 8% van borskankergevalle wat gediagnoseer word in Suid-Afrika, is by mans,” vertel Sheriff.
Sy sê dat wanneer dit by mans voorkom, is dit meer geneig om geneties van oorsprong te wees, veral as daar iemand in die familie is wat borskanker gehad het.
“Dit is belangrik dat ons kennis dra dat dit nie nét vrouens is wat borskanker kan kry nie,” sê Sheriff.
Sy vertel verder dat ‘n mens moet weet hoe om jouself te ondersoek. Dit is ook belangrik dat mans en vroue vir 'n mammogram moet gaan, en nie net vir 'n bors-ondersoek nie, maar oor die algemeen ondersoek moet word. As daar iets is wat verander, dinge wat nie normaal voel of simptome waaroor jy onseker is, dan is dit altyd beter om na jou plaaslike kliniek toe gaan, of jou dokter, om seker te maak van die veranderinge.
“By mans sal daar partykeer ‘n knoppie agter die tepel wees, maar oor die algemeen wanneer daar ‘n knop by ‘n man is, dan moet dit dadelik ondersoek word,” vertel sy.
Dr. Jaco Strydom van Ruach Fertility and Gynaecology vertel dat die grootste risikofaktor vir borskanker natuurlik is om ‘n vrou te wees. Alhoewel borskanker by verre die meeste by vroue voorkom, kan dit ook by mans voorkom, net in die minderheid van gevalle.
“Ouderdom is ook ‘n faktor. Al hoor ons kort-kort van jong pasiënte wat borskanker ontwikkel, is die meeste gevalle maar in die bo 45-jarige ouderdomsgroep,” vertel Strydom.
Hy vertel ook dat familiegeskiedenis ‘n groot rol speel, hoe meer familielede borskanker onderlede het, hoe hoër raak die risiko dan op die einde van die dag.
Sheriff vertel dat 'n mens die genetiese toets kan laat doen wanneer jy weet jy het 'n familiegeskiedenis van borskanker. Sy stel voor dat 'n mens dit as ‘n familie of as ‘n gesin doen om seker te maak.