Central SA
Kimberley-dominee neem swaar afskeid ná 4 dekades─── MORNÉ VAN ROOYEN 11:46 Mon, 20 Mar 2023

“Dis soos om ’n geliefde vir altyd te moet groet. Ná byna 40 jaar in die gemeente het dit my familie, my lewe geword. Ek het basies die beste deel van my lewe saam met hulle geleef, gelag, gehuil.”
“Maandagoggend (13/3) se eerste emosie wat ek ervaar het, was een van geweldige verlies,” vertel dr. Abraham Swanepoel, wat die vorige dag, Sondag 12 Maart, afskeid geneem het van die NG Gemeente Kimberley-Harmonie toe hy sy emeritaat aanvaar het.
“Dit voel vir my asof ek hulle in die steek laat. Maar dis die realiteit: Die lewe gaan aan en ek moet groet.”
Ons gesels met hom oor die lang pad wat hy en die gemeente sedert 1984 gestap het toe dit nog as Kimberley-Suid bekendgestaan het, oor die lesse wat hy by kollegas geleer het, hoe die gemeente en gemeenskap in amper 40 jaar verander het, wat die kerk vandag nog vir mense kan beteken en hoe die bediening moes aanpas om relevant te bly.
Dr. Abraham Swanepoel was 40 jaar lank predikant in Kimberley in ’n tyd van groot veranderinge in die gemeente, die NG Kerk en die samelewing.
Lewenslesse van medeleraars
“Die eerste is dat ’n mens altyd, altyd moet saamwerk, mekaar moet vind, in vrede met mekaar moet saamlewe, want dit gaan oor die gemeente, nié ons ego’s, of wie’s die belangrikste of wie is die beste dominee nie.
“Daarom het ek dit beleef dat ek nie sonder ’n kollega wil wees nie, want ’n kollega bring iets anders na die tafel toe wat onmisbaar is, help jou somtyds om uit ’n ander hoek na iets te kyk of om iets anders te beleef en te ervaar,” vertel dr. Swanepoel, wat in 1984 in die vyf jaar oue NG Gemeente Kimberley-Suid bevestig.
Sy eerste medeleraar was ds. Vidius Nel (toe amper 60), wat met die afstigting van Kimberley-Suid op 13 November 1979 oorgekom het vanaf die moedergemeente, Diamantveld. Hulle het twee jaar lank saamgewerk tot ds. Nel in Junie 1986 ’n hartaanval op die kansel kry terwyl hy ’n huweliksbevestiging gelei het en twee maande later met vervroegde pensioen afgetree het.
“’n Mens is maar so geneig om te dink, soos wat jy dink, is die regte [manier]. En dan bring [predikantekollegas] natuurlik gawes en talente wat ek nie het nie, wat weer aan ander mense se behoeftes kan voldoen. So dit was vir my wonderlik.”
Dr. Swanepoel is in 1984 bevestig in die NG Gemeente Kimberley-Suid (foto), wat in 1999 saam met Kimberley-Noord en -Militêr die nuwe gemeente Kimberley-Harmonie gevorm het. Dis ’n gepaste naam vir die vrede waarin lidmate met mekaar saamleef en -werk.
Ná die kort ruk saam met ds. Nel, het hy en ds. Dawie Scheepers jare lank saamgewerk tot sy kollega in 2020 afgetree het. Ds. Ben de Wet was ook ’n ruk lank saam met hulle in die gemeente, en toe het dr. Swanepoel sy eerste vrouekollega, ds. Santie Nel, gehad.
“Santie het my laat besef hoe kosbaar vroue eintlik as predikante vir die kerk is. Hulle het ’n manier om anders na goed te kyk en te dink en ’n ander dimensie te bring. Ek dink hulle is van onskatbare waarde vir die Here en sy kerk, en ek is so dankbaar dat ek saam met haar in die bediening kon wees.”
Hy vertel sy het ’n passie vir jong mense gehad en ’n ommeswaai teweeggebring in Kimberley-Harmonie om te gaan van gewone bediening na gesinsbediening toe.
Ds. Santie Nel, hier afgeneem saam met haar man, Willem, en hul dogters, Kara, Janke en Liané, was tot 2022 dr. Swanepoel se eerste vrouekollega in Kimberley-Harmonie. Sy is nou predikant van die NG Gemeente Langebaan aan die Kaapse Weskus.
Waarna sien hy die meeste uit in sy aftrede?
“Ek weet nie rêrig nie,” erken dr. Swanepoel. “Ek sien nie daarna uit om soggens op te staan en niks te doen nie.
“Dit was so vanselfsprekend, my lewe. Ek staan op, gaan kerk; ek het ’n kantoor daar gehad en daarvandaan het ek my werk gedoen, maar wat ek wel kan sê, waarna ek geweldig uitsien, is om saam met ’n wonderlike vrou, kinders en kleinkinders die laaste klompie jare wat die Here hopelik nog vir ons gee, net saam te geniet en by mekaar te wees.”
Hy meen hy is dit aan Erika verskuldig. “Sy het my wonderlik ondersteun al die jare, en ek sal graag net onbesorg, sonder om bekommerd te wees of ek môre ’n preek het, of ’n begrafnis of ’n kerkraadsvergadering, net rustig saam met hulle te wees en die lewe te geniet.”
Dr. Swanepoel het ’n geweldige gevoel van verlies ervaar nadat hy van Kimberley-Harmonie afskeid geneem het.
Is dit vaarwel aan die Noord-Kaap?
“Ek is ’n kind van die Wes-Transvaal,” vertel dr. Swanepoel. “So die veld, die bome, die gras, die savanna het, toe ek in die Noord-Kaap kom, in my hart ingekruip.
“Dit sal seker my eerste liefde bly, en ek sou in die Noord-Kaap kon aangebly het, maar ek het my het my belowe ek sal eendag aftree waar sy graag sal wil bly.” Haar keuse was die Paarl, waar hulle die afgelope week ingetrek het.
“My vermoede is dat die vrouens langer lewe as ons en dat sy met ander woorde op ’n plek wil gaan bly waar sy gelukkig sal wees al is ek die dag nie meer daar nie. Maar ek moet sê die Wes-Kaap is mooi, die Paarl is mooi en ten minste maak hulle lekker wyn, moet ek darem ook erken!”
Die afskeid van die Noord-Kaap is gelukkig nie finaal nie. Hy het van sy pensioengeld geneem en ’n boerdery begin saam met die sakeman en boer Deon du Plessis en Frans Williams, Du Plessis se voorman.
“Ek sien verskriklik daarna uit om gereeld op te gaan Noord-Kaap toe om in die plaashuis te bly en met die beeste te werk en die skape in die veld, en die ongelooflike sereniteit te beleef, en die hemelruim wat so helder is, en die reuk van gras in die nag as jy in die veld is.”
Miskien sal hy ook nog êrens in ’n gemeente ’n sinvolle bydrae kan lewer. “Dis nie vir my belangrik nie, maar as ek nog iets vir ’n gemeente kan beteken, in die Paarl, in die Wes-Kaap, dan sal ek dit nogal wil doen.”
Lidmate van Kimberley-Harmonie leef, werk en aanbid saam in harmonie.
Wat gaan hy die meeste mis van predikant wees?
“Die mense. Om saam met hulle te geleef het … Joe! Dit was ’n besondere voorreg. Dit was net ’n liefdevolle gemeente.”
In al die jare, vandat hy bevestig in 1984 in Kimberley-Suid bevestig is en ná die samesmelting in 1999 met Kimberley-Noord en -Militêr toe die gemeente die gepaste nuwe naam, Kimberley-Harmonie, gery het, was daar “nie tweespalt nie, daar was nie bakleiery nie. Dit was mense wat in harmonie met mekaar geleef het.
“In daai 40 jaar, kan ek nie ’n vergadering onthou waar ons uitmekaar uit is waar ons ongelukkig was, of waar daar ’n bakleiery of ’n stryery was nie. Daar was net altyd hierdie gees van liefde, van omgee, van eensgesindheid, van saamtrek. Dit was vir my wonderlik.”
‘Ons moet ons verwonder oor hierdie ongelooflike God’
Dr. Swanepoel vertel om Sondae te preek was nie die maklikste deel van bediening nie. “My vrou het altyd vir my gesê: ‘My man, jy preek as so lank, maar jy skrik jou nog dood as jy op die preekstoel klim.’”
Tog sal hy dit ook mis, “want dit was vir my tog ’n ervaring om saam met die gemeente op ’n Sondagmôre te aanbid en my poging om hulle te help om ietsie in die erediens van die voorportaal van die hemel te ervaar, dit was altyd vir my kosbaar.”
Sy uitgangspunt tydens sy preekbeplanning was altyd: “Ons moet by hierdie deure uitstap en ons moet ons verwonder oor hierdie ongelooflike God, wat vir ons lief is.”
Dr. Swanepoel wil hê lidmate moet iets van die voorportaal van die hemel in Kimberley-Harmonie se kerkgebou ervaar.
Wat gaan hy nie mis van predikant wees nie?
“Natuurlik maar die begrafnisse en die hospitale. Ná my seun se dood in 2004 was begrafnisse vir my moeilik, want ek het geweet hoe lyk hierdie mense wat voor my sit se hart: Dis stukkend,” vertel dr. Swanepoel.
Anru was in sy finale jaar van B.Rek toe hy op 21 aan karsinoomkanker oorlede is. Die Swanepoels se ander kinders is Sindie (41), Philé (37) en Monlee (35).
“Ek het, as ek in die hospitaal ingestap het, en daai hospitaalreuke kom so na jou toe, dan werp dit jou so terug in die verlede in; so ek gaan dit nie mis nie.
“Dit was vir my ná 2004 glad nie lekker om dit te doen nie, maar ek het dit gedoen. Ek het vir die mense omgegee. En hulle het altyd gesê: ‘Abraham, ten minste weet ons jy verstaan ons.’”
Dr. Swanepoel sê jong mense is nie so lojaal aan die kerk soos vorige geslagte nie en moet aktief by die kerk betrek word sodat hulle daar sal wíl wees.
Hoe het die gemeente in 40 jaar verander?
“Destyds was dit maklik. Jou gemeente het grense gehad; jy was verseker van lidmaattal,” vertel jy van die tyd toe die hele Suid-Afrika in NG gemeentes verdeel was en lidmate verplig was om te behoort aan die gemeente in wie se grense hulle gewoon het.
“Jy was nooit bekommerd daar gaan nie mense wees nie, want mense móés by jou inskakel. Dit was so eenvoudig soos dit.”
In die tagtigerjare was dit ’n huisbesoek-georiënteerde bediening. “Jy moes eintlik aan die einde van die jaar vir die kerkraad sê jy was minstens een maal in die jaar by elke huis wat aan jou toegewys is.
“Dit was ’n bediening gefokus op ons het ouderlinge en diakens, en ons moet die geld insamel en elke maand kontroleer. En dit was op ’n manier sleg gewees, want dit het gevoel dis nie waarom dit gaan nie.”
Maar dié tyd is lank reeds verby, want die gemeentegrense het verval, en daarna het die omwenteling van 994 gebeur en het die wêreld heeltemal verander.
Deesdae moet lidmate dit geniet om by die kerk saam te kom vir eredienste en allerlei ander geleenthede waar hulle ’n gemeenskapsgevoel kan ervaar.
“Jy het skielik besef: Ons kan nie meer alles as so vanselfsprekend aanvaar nie, dat jy môre nog ’n gemeente gaan wees nie, dat hier lidmate gaan wees nie.”
Dr. Swanepoel sê hy het nooit verval in wedywering met ander gemeentes nie. Maar die predikante en kerkraad het besluit: “Harmonie, ons wil net vir die Here ons beste gee. Ons beste is dalk in vergelyking met ’n ander gemeente treurig, maar solank ons geweet het in ons pogings gee ons vir die Here net ons beste.”
Dit bly ’n wenresep, want die gemeente het gestabiliseer terwyl die NG Kerkverband se lidmate drasties minder geword het. “Dis die grootste vreugde vir my dat ons gemeente in al hierdie jare nie gekwyn nie.
“Die kinders het meer geword saam met ds. Santie wat gekom het. So ons gemeente het eintlik gegroei. Finansieel het dit met ons goed gegaan.”
Van die kleinste tot die oudste moet tuisvoel in die kerk en weet daar word in hulle behoeftes voorsien, vertel dr. Swanepoel.
Hoe het die bediening met die jare verander?
“Ons het verander van individue na ’n gemeenskap van gelowiges toe,” vertel dr. Swanepoel. “Dinge het baie verander. Ons moes fokus meer op verhoudings, as om net met individue te werk.
“Dit het ek sien verander, en dis hoekom ek kan sê: As jy bietjie die hart van die gemeente gaan kyk, sal jy agterkom ons het ’n baie sterk Aksie Goue Jare, wat fokus op ons seniors se verhoudings, ons het ’n manneaksie. As ons ’n funksie hou, loop ons hier 150, 160.
“Dieselfde met die Vroue van Vreugde. Ons het weggedoen met daai uitgediende Vrouediens, en ons het ’n aksie vir jong belydende lidmate wat ook saamkuier.
Hy vertel ’n professor het eenmaal vir hom gesê: “Abraham, help net die gemeente om ’n verhouding met God en met mekaar te bou, en al die ander goed val in plek.” Dit het hulle in Harmonie probeer en dit was vir hom die wonderlikste.
Ten spyte van ons gejaagde lewe is ons steeds kuddediere wat wil weet ons is nie alleen nie, die kerk is ’n plek van samekoms.
Hoe het die gemeenskap van Kimberley sedert 1984 verander?
“Ek kon enige by ’n hekkie instap en ’n voordeurklokkie lui. Vandag kan ek nie. Daar’s heinings. Daar’s honde. Jy moet afsprake maak,” sê dr. Swanepoel.
“Mense is in ’n gejaagde lewe. Daar’s televisie, hulle kyk programme. So die dominee is ook nie meer altyd so welkom nie in mense se huise nie.”
Ongelukkig het dit daartoe gelei dat mense vereensaam het. “Ons het in hierdie forte van ons ingetrek, ons bly agter hierdie beskermende heinings en mure, en tog het ons almal ten diepste ’n behoefte aan gemeenskap.
“Ons is, ek dink tog, kuddediere. En daarom het die kerk juis vir my die plek geword waar ons Sondae as ’t ware ons hekke en deure kan oopgooi. Ag, selfs met die ander funksies, en sê: Kom ons gaan leef net anders, net vry, ons gaan leef net en geniet die lewe saam met mekaar as mense.”
Toe hy in die gemeente begin het, was die NG Kerk “nog belangrik”. Die meeste politieke leiers was NG lidmate. “Dit was belangrik om op jou CV te sit jy behoort aan die NG Kerk.
“Vandag is dit nie meer relevant nie; inteendeel, van destyds tot nou toe het die getal lidmate van die NG Kerk basies gehalveer. So dit is nie meer eenvoudig om predikant te wees nie; dis moeilike tye.”
Kinders en die jeug, sê dr. Swanepoel, is nie die kerk van môre nie; hulle is die kerk van vandag en moet so benader word dat hulle deel voel.
Hoe verskil die uitdagings van die bediening in 2023 van dié in 1984?
“Mense aanvaar nie sommer net meer dit wat die dominee sê of wat die dominee preek is die waarheid nie. Daar is mense wat meer krities begin dink oor hulle geloof en oor die Bybel as die Woord van God.”
Die uitdaging is nou dat mense, kerklidmate inkluis, ’n verbruikersmentaliteit ontwikkel het, verduidelik dr. Swanepoel. Dis ’n geval van: “Jy weet, ons kyk eers rond waar is die gemeente wat ons die beste kan bedien.” Nes hulle besluit watter mall die beste inkopie-ervaring kan bied.
“Dit is ongelukkig ook waar van die kerk: Mense kyk rond watter kerk kan die beste in my behoefte voorsien en dan gaan ons diékant toe.
Daarom kan predikante nie meer “lui” wees nie. “Jy kan nie sommer net op die preekstoel klim nie. As dit so is dat daar niks gebeur in ’n gemeente nie, dan het jy môre nie meer lidmate nie, dan maak die gemeente toe.”
‘Ons is saam op pad, en terwyl ons op pad is, is daar belangrike dinge wat vir die Here gedoen moet word.’
Hy meen die uitdaging vandag is vir die jonger predikante om aktuele, Skrifgetroue prediking aan die mense te bied, “maar nie so seker meer te wees oor alles nie, want ons was so seker met ons dogmas en ons leerstellings, dat ons alles weet, en die mense het geglo wat die dominee sê, is reg. Ons is nie meer daar nie.”
Vandag is predikante eerder saam met hul lidmate op reis, meen hy. Toe hy hy begin het as predikant, was die klem op gelowiges se pad hemel toe.
“Die fokus het verander. Hoe ís hierdie reis op pad hemel toe? Wat gaan ons doen tot ons nou daar kom? Hoe belangrik is hierdie stukkende wêreld rondom ons?”
Die uitdaging van die kerk is om op hierdie geloofsreis op pad hemel toe ál meer betrokke te raak. “Hulle gebruik deesdae die mooi woord: ’n “missionale” bediening. Dis eintlik ’n ou woord, maar dit sê maar net: Ons is nie nét op pad hemel toe nie. Ons is saam op pad, en terwyl ons op pad is, is daar belangrike dinge wat vir die Here gedoen moet word.”
“As jy die skape in die kraal wil kry, kry eers die lammers in.”
Hoe behou die NG Kerk sy jong mense vir die kerk?
Dr. Swanepoel het ervaar die jonger geslag het geen meer van die ouer geslag se blindelingse lojaliteit aan die NG Kerk nie. “Ons sal hard moet werk om die jonger geslag, die jeug, vir die kerk te behou.
“Partykeer wil mense sê: ‘Die jeug is die kerk van die toekoms.’ Nee, hulle ís die kerk. Hulle is wesentlik deel daarvan, en hulle moet dit so beleef. Hulle is nie net meer ‘kinders word gesien en nie gehoor nie’. Kinders moet beleef hulle is déél van ’n gemeente.”
Hy vertel van ’n dierbare ouderling, wat jare gelede in Kenhardt se wêreld met skape geboer het, se onvergeetlike raad. “As ons so gepraat het oor die kerk, het hy vir my gesê: ‘Dominee, weet jy, as ek die skape in die kraal wil hê, jaag ek die lammers eerste in.’ En dit het by my laat besef, die kerk vandag moet dit ook doen.”
Ouers skryf hulle kinders in by ’n skool wat hulle dink die beste vir hulle kan bied. So kies hulle ook ’n gemeente wat hulle kinders die beste kan bedien en vir hulle omgee.
“So moet ons ons kinders help, want hulle is die kerk. En so nog die kerk van die Here dan tot die voleinding ’n pad te laat en saam op reis te wees.”