On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteiner tronk toe nadat hy stiefdogter afloer

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:54 Fri, 10 May 2024

Bloemfonteiner tronk toe nadat hy stiefdogter afloer | News Article
Francois Labuschagne. Foto: Facebook

“Die slagoffer was twaalf jaar oud toe haar stiefpa haar seksueel begin aanrand het, maar daar was ’n aanloop vandat sy nege jaar oud was.”

Die man wat ’n veiligheidskamera in sy stiefdogter se kamer in hul huis in ’n gegoede woonbuurt aangebring en haar met skermgrepe daarvan afgepers het, is vyf jaar tronkstraf opgelê.

Francois Labuschagne (53) is Donderdag (9/5) in die streekhof in Bloemfontein gevonnis weens die vervaardiging en besit van kinderpornografie, asook seksuele aanranding en ontbloting. Streeklanddros Patrick Saliwa het hom ook ’n boete van R6 000 of 12 maande tronkstraf opgelê, opgeskort vir drie jaar, omdat hy in 2015 sy stiefdogter op die boud geslaan het.

Francois Labuschagne word gevonnis in die Bloemfonteinse streekhof. Foto: Charne van der Merwe

Labuschagne, wat nou in die Wes-Kaap woon, is ook tot drie jaar tronkstraf gevonnis, in geheel opgeskort, omdat hy hom aan een van sy stiefdogter se vriendinne ontbloot het. Hy moet minstens tien maande van sy vonnis uitdien voordat hy in aanmerking kan kom om op korrektiewe toesig vrygelaat te word.

Die beskuldigde se regsverteenwoordiger, adv. Edwin Grobler, het ná die uitspraak aansoek gedoen om verlof tot appèl teen Labuschagne se skuldigbevinding en vonnis, maar Saliwa het dit van die hand gewys. Hy het tydens vonnisoplegging gesê Labuschagne is aan ernstige misdrywe teen twee vroue, toe nog minderjarige meisiekinders, skuldig bevind.

Die slagoffer (nou 23) se trane het geloop tydens die vonnisoplegging. “Dit was ’n uitgerekte hofsaak wat elke keer net ou wonde oopgekrap het, maar vandag kan ek die boek toemaak, en hy het gekry wat hy verdien,” het sy aan OFM Nuus gesê.

‘Die stiefdogter en haar vriendin was minderjarig’

Sy was twaalf jaar oud toe haar stiefpa haar seksueel begin aanrand het, maar daar was ’n aanloop vandat sy nege jaar oud was. “Hy (Labuschagne) het ook een van my vriendinne probeer groom. Sy het haarself een aand in die badkamer toegesluit uit vrees vir hom.”

Die vriendin, wie se naam nie genoem mag word nie, was die klaagster in een van die aanklagte van ontbloting. Die stiefdogter en haar vriendin was minderjarig toe die voorvalle van 2015 tot 2018 in Heuwelsig plaasgevind het.

Tydens sy vorige hofverskyning op 25 Maart, het Labuschagne gesê die rede vir die kamera in sy stiefdogter se kamer was omdat hy haar wou uitvang en aan haar ma wou wys dat sy nie eerlik is nie en ná haar spertyd saans eers by die huis kom. Hy het ook gesê dat die kamera slegs een aand in die kamer was.

Francois Labuschagne. Foto: Facebook

Hy het egter nooit enigiets daarvan aan sy destydse vrou, met wie hy nege jaar getroud was, gesê nie. “Ons het een aand voor die televisie gesit toe hy die skermgrepe vir my wys en sê ek ‘skuld’ hom,” onthou die slagoffer.

Sy het die skermgrepe van die opname wat op sy selfoon was, self uitgewis toe sy sy selfoon later in die hande kry. Die opnames is geneem op die aand toe sy van ’n skooldans af tuis gekom het en ’n vriend by haar oorgeslaap het. Hulle het die kamera die volgende oggend op die vloer sien lê.

Dit is toe dat sy vir die eerste keer haar ma van alles vertel het en daarna ’n klag teen Labuschagne ingedien het.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.