On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Afrikaanse boeke om te lees voor jy lepel in die dak steek

───   07:00 Thu, 08 May 2025

Afrikaanse boeke om te lees voor jy lepel in die dak steek | News Article
Jaco Jacobs, kinder-en-jeugboekskrywer. Foto verskaf

Afrikaans het Donderdag (8/5) honderd jaar gelede amptelike status in die Unie van Suid-Afrika gekry naas Engels en Nederlands, maar sedert die 19de eeu is reeds honderdduisende boeke in die soetste taal gepubliseer.

Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein het meer as 200 000 boeke in sy argief, sê Wyno Simes, kurator, “maar dit is onmoontlik om so vinnig te sê hoeveel Afrikaanse boeke oor die afgelope honderd jaar verskyn het”.

Tussen vierhonderd en vyfhonderd Afrikaanse boeke – wat fiksie, niefiksie en poësie insluit – word jaarliks gepubliseer, maar ’n mens sal nooit in jou leeftyd alles kan lees wat óóit gepubliseer is nie. OFM Nuus het by vier Vrystaatse skrywers kers opgesteek oor dié boeke wat jy móét lees voordat jy lepel in die dak steek.

Maretha Maartens, skrywer. Foto: Facebook

“Hoe kies ’n mens tussen van die beste tussen die bestes?” wonder Maretha Maartens, skrywer van onder meer ’n Pot vol winter. “Ek weet nie hoe om te kies tussen ’n Engel deur my kop, ’n samestelling van Sheila Cousins se religieuse gedigte deur Amanda Botha, en die boek Seisoene, ’n outobiografie deur Engela Linde nie.

“Omdat ek self ’n predikantsvrou was, was dit vir my ’n verruklike boek – om die lewenservaringe van ’n skrywer en predikantsvrou te lees, haar lewenservarings van gesinskrisisse, haar man se senu-ineenstorting en haar skoondogter se ernstige motorongeluk terwyl sy besig is met haar eie, uiters ambisieuse skryfwerk.

“Dis regtig ’n ode aan die lewe, hierdie boek, met die wonderlikste taalgebruik en baie klein verhale wat uiteindelik ’n lewensverhaal word. Dit is een van my gunstelingboeke.


“En dan natuurlik Karel Schoeman se Uur van die engel, waarin hy sê ‘die verlede is ’n ander land: waar is die pad wat daarheen voer? ‘Die verlede is 'n ander land, onbereikbaar in sy verte, en wat daaruit herwin kan word, wat daaruit behou kan word, dra jy met jou saam.’ ”

“Maar eintlik kom ’n mens nooit los van die landskap van jou verlede nie. Die verlede kan jy nie herwin nie. Maar jy kan dit ook nie verloor nie. En dan natuurlik, die jong skaapwagter Daniel Steenkamp wat ’n engel aan hom sien verskyn het.

“En die skeptisisme van die gemeenskap. Hoe’t hy gelyk? Het sy voete onder sy rok uitgesteek. Hoeveel sentimeter het hy bo die grond gehang? Dis ’n wonderlike boek oor die Vrystaatse landskap en hierdie religieuse gebeurtenis.”


Jaco Jacobs, kinder-en-jeugboekskrywer, sê dit is moeilik om net drie boeke uit te sonder, maar as hy móét kies, is dit beslis Triomf van Marlene van Niekerk. “Ek het dit al so baie herlees, maar put altyd iets nuuts daaruit. 

“Ek dink dit is die Afrikaanse roman wat waarskynlik in my leesloopbaan die heel grootste indruk op my gemaak het.”

Tweede op sy lys is Eben Venter se Ek stamel ek sterwe. “Ek dink dis een van die boeke wat my die meeste laat huil het. My derde boek is die Pippie Langkous-omnibus. Dié boek móét op almal se boekrak wees.”

Fanie Viljoen, jeugskrywer. Foto: Facebook

Fanie Viljoen, jeugskrywer, meen PG du Plessis se Fees van die ongenooides is een boek wat almal moet lees. Hy dink ook Agaat van Marlene van Niekerk moet op almal se emmerskoplys wees, asook Kringe in ’n bos van Dalene Matthee.

“Dit het nogal dinkwerk gekos om net drie boeke te kies uit die ryk skat van Afrikaanse romans,” sê Tosca de Villiers, skrywer van moderne liefdesverhale. 

“Uiteindelik het my keuse op die volgende boeke geval: Hierdie lewe van Karel Schoeman. Hy gebruik die Suid-Afrikaanse verlede as tema vir ’n roman waarin die wese van omwenteling weergegee word en slaag meesterlik daarin om atmosfeer te skep en verhoudings tussen mense op te bou.

Tosca de Villiers, skrywer van moderne liefdesverhale. Foto: Facebook

Decima van Eben Venter is outo-fiksie, fabel, ’n speurverhaal en wetenskap. Dit is ’n elegiese werk vir baie stemme waarin die skrywer die aard van verlies in sy vele gestaltes besing en besweer. 

“Die Hertzogprys is onlangs aan Venter vir hierdie werk toegeken. In Onder ’n bloedrooi hemel vertel Annemarie van Niekerk haar eie storie onthutsend eerlik met ’n verkenning van die groot kwessies in ons land. 

“Geweld teen vroue, skuld en onmag, aandadigheid en keuse. Onder ’n bloedrooi hemel is ’n diep ontroerende persoonlike reis van geweld na genade. Meesterlik vertel.”

OFM cg/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.