On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Ken jy die geskiedenis van Afrikaans?

───   08:00 Thu, 08 May 2025

Ken jy die geskiedenis van Afrikaans? | News Article
Foto: Canva

Afrikaans vier op 8 Mei 2025 sy honderdste bestaansjaar as amptelike taal in Suid-Afrika, maar sy wortels strek veel verder terug.

Dr. Francois Smith, departementshoof van Afrikaans, Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat, vertel daar was “bietjie omstredenheid” oor die afkondiging van die landwye viering van Afrikaans se honderdjarige status. “Baie mense was onder die indruk dat ons nou die begin van Afrikaans vier, maar dit gaan eintlik oor die honderdjarige status daarvan.”

Volgens Smith is die kernvraag dikwels: “Wie se Afrikaans vier ons? Is dit die Afrikaans wat ek praat, of is dit een van die streekvariante of die hoofstrome van Afrikaans?”

Hy meen Afrikaans bly in sy kern ’n diverse en lewende taal, wat nie net beperk moet word tot die formele, gepoleerde vorm of selfs ‘radio-Afrikaans’ nie. “Die belangrike ding is dat ons Afrikaans moet probeer vier in sy ryke verskeidenheid. Ons moet ons bes probeer om almal in te sluit wat Afrikaans praat.”

Hierdie uiteenlopende variante – van die informele gesprekstaal van jongmense tot die streekdialekte van plattelandse gemeenskappe – dra almal by tot Afrikaans se lewendigheid en relevansie as ’n moderne kommunikasie-instrument. Dit bevestig Afrikaans as ’n unieke en dinamiese taal – ’n taal wat oor grense heen kommunikeer en kulturele identiteite bou.

Hoewel Afrikaans op 8 Mei 1925 amptelike status verkry het toe die skrywer en volksraadslid C. J. Langenhoven suksesvol ’n wetsontwerp ingedien het, strek die taal se geskiedenis veel verder terug. Smith verduidelik Afrikaans het lank voor hierdie datum as ’n afsonderlike kommunikasievorm begin ontwikkel het, met wortels in die 17de eeu se Nederlands, die omgangstaal van slawe (algemeen bekend as Maleis-Portugees) en die inheemse Khoi-Khoi tale.

Hierdie linguistiese mengsel is verder versterk deur die invloed van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie se amptenare en die komplekse sosiale interaksies tussen Europese setlaars, slawe van Afrika en die Ooste, en die plaaslike Khoi-Khoi. Hierdie dinamiese taalmengsel het gelei tot ’n unieke kommunikasievorm wat later as Afrikaans erken sou word.

Afrikaans het ook ’n aantal unieke taalstrukture wat dit van ander tale onderskei. Voorbeelde hiervan sluit in die veelgebruikte woord “baie”, wat sy oorsprong in die slawe se omgangstaal het, en die dubbele negatief, soos in “Ek wil nie braai nie,” wat van die Khoi-Khoi afkomstig is.

Smith beklemtoon hoewel Afrikaans somtyds met politieke geskiedenis geassosieer word, dit onteenseglik ’n Afrikataal is – gevorm en gevul deur die diverse stemme van die vasteland. “Afrikaans is ’n taal van wetenskap, kuns, kultuur en die alledaagse lewe. Dit is ’n taal waarin ons kan droom, onsself kan uitleef en ons kulturele identiteit kan vier.”

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.