On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Petisie eis oudit van swak bestuur van krag, water in Vrystaat

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:16 Wed, 21 May 2025

Petisie eis oudit van swak bestuur van krag, water in Vrystaat | News Article
Dirk Kotze, DA-raadslid in die Mangaung-metro. Foto DA

Die DA in Bloemfontein het ’n versoekskrif begin waarin ’n volledige forensiese oudit van Mangaung-metro en Centlec se faktuurstelsel versoek.

Die party het ook ’n mosie by die stadsraad ingedien en die Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika (OG) in kennis gestel, sê DA-rdl. Dirk Kotze.

’n Onlangse verslag van die OG onderstreep ernstige wanbestuur in die munisipaliteite Mangaung en Masilonyana in die Vrystaat, wat so swak bestuur word dat dit inwoners daadwerklik benadeel. Infrastruktuur stort in duie, paaie val uitmekaar, waterstelsels verbrokkel en kragonderbrekings kom gereeld voor.

Photo: Rapport

Jare van wanbestuur en politieke onstabiliteit het gelei tot wydverspreide bestuursmislukkings. Geen Vrystaatse munisipaliteit het ’n skoon oudit vir 2022/23 en 2023/24 ontvang nie.

Die OG het oortredings van grondwetlike verpligtinge gevind, insluitend rioolbesoedeling, waterwanbestuur en munisipale skuld aan Eskom. Ten spyte van aanbevelings het toestande vererger, wat gelei het tot ’n humanitêre krisis en stilstaande of wanbestuurde projekte op noodsaaklike gebiede soos water en sanitasie.

In die DA se versoekskrif word ’n onafhanklike ondersoek gevra na onakkuraathede in rekeninge, finansiële wanbestuur en kwessies wat inwoners raak, soos duplikaat- of verkeerde rekeninge, sowel as onbetroubare meterlesings. Baie huishoudings word ook van gratis basiese elektrisiteit uitgesluit.

Inwoners gevra om petisie te ondersteun

Kotze dring daarop aan dat inwoners die petisie ondersteun, aangesien baie sukkel met faktuurprobleme. Raadslede sal stalletjies in talle wyke opstel om inwoners met rekeningverwante navrae te help en dit vir hulle moontlik te maak om die petisie te onderteken.

Hy sê Lele Mamatu, Centlec-woordvoerder, het enige fakturering- of meterlesingsprobleme ontken en gesê geen rekord van sulke probleme bestaan nie. Kotze dring daarop aan dat hierdie bekommernisse dringend aandag kry, aangesien inwoners ook voortdurende krag- en watervoorsieningsprobleme ondervind.

Op 8 April is dele van Bloemfontein sonder krag en water gelaat weens tegniese probleme tydens elektrisiteitsaankope. Die DA vra Centlec moet beter kommunikeer oor kragonderbrekings.

LEES OOK: Bloemfontein-infrastruktuur kort dringende ingryping

In die petisie word ook melding gemaak van beweerde bedrog, spookrekeninge en ’n gebrek aan kommunikasie. ’n Oudit word gevra van die afgelope vyf boekjare, insluitend residensiële, korporatiewe en institusionele rekeninge, sowel as ’n hersiening van beleide vir behoeftige gesinne en gratis basiese elektrisiteit.

In ’n verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie verlede jaar is ook voortdurende probleme aan die lig gebring, soos hoë vakatures, swak infrastruktuuronderhoud, swak afvaldienste en finansiële probleme.

Die verslag skets ’n treurige prentjie van Mangaung, waar finansiële besluite geneem word sonder inagname van dienslewering, en die bestuur versuim om aanspreeklikheid af te dwing.

Mislukte projekte

Volgens die verslag het die munisipaliteit R1,34 miljard in ongemagtigde uitgawes opgehoop, tesame met R277 miljoen in onreëlmatige besteding en R123 miljoen in verkwistende koste. Baie hiervan is gekoppel aan mislukte projekte en vermybare rentebetalings. Mangaung skuld ook R922 miljoen aan waterrade, met byna die helfte van sy water wat weens lekkasies of diefstal verlore gaan. 

Ten spyte van ’n kapitaalbegroting van R792 miljoen, het die stad met 111% oorbestee en slegs 45% van sy diensleweringsteikens bereik.

Die OG het gewaarsku dat Mangaung se finansiële gesondheid so broos is dat sy toekoms as ’n lopende saak in twyfel is. ’n Belangrike faktor is ’n vakaturekoers van 62% in die infrastruktuurafdeling, wat projekbestuur belemmer.

Riool vloei deur die strate van Mangaung. Foto: businesstech

Die OG het 17 wesenlike onreëlmatighede gemerk, maar geen dissiplinêre stappe is geneem totdat daar ingegryp is nie. Sonder dringende hervormings in personeel, projekbestuur en finansiële beheermaatreëls loop die munisipaliteit die risiko van verdere agteruitgang.

Die OG-verslag lui dat terwyl Mangaung in duie stort, Masilonyana – wat dorpe soos Theunissen en Winburg insluit – effektief opgehou funksioneer het. Dit het ’n vrywaringsouditmening ontvang, die ergste moontlike uitkoms, weens ontbrekende finansiële rekords en versuim om state in te dien.

Die oudit het R112 miljoen in onreëlmatige uitgawes en R39 miljoen in vrugtelose uitgawes ontdek, met meer as R1,1 miljard in ongemagtigde uitgawes wat sonder bewyse “omgekeer” is. Interne beheermaatreëls het ineengestort, geen diensleweringsteikens is bereik nie, en infrastruktuurprojekte gaan gebuk onder vertragings, swak beplanning en vandalisme.

‘Geen pogings om verliese te verhaal nie’

Ten spyte van die ernstige bevindinge was daar geen aanspreeklikheid nie – geen ondersoeke, geen dissiplinêre stappe en geen pogings om verliese te verhaal nie.

Die OG het gewaarsku dat hy magte kragtens die Openbare Ouditwet kan inroep om geld direk van amptenare te verhaal en sake vir vervolging te verwys. Gemeenskappe moet klaarkom sonder basiese dienste en het te kampe met daaglikse gesondheids- en omgewingsgevare.

Sonder dringende ingryping kan herstel onmoontlik wees, wat blywende skade aan inwoners kan veroorsaak.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.