On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-egpaar se moordverdagtes bly in aanhouding.

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:08 Thu, 19 Jun 2025

Noordwes-egpaar se moordverdagtes bly in aanhouding. | News Article
George en Wilma Koster. Foto: Pretoria Flying News

Die twee beskuldigdes, wat aangekla word van die moord op ’n Noordwes-egpaar, bly in aanhouding en sal na verwagting op 2 Julie om borgtog aansoek doen.

Die twee mans het Donderdag (19/6) in die Rustenburgse landdroshof verskyn in verband met die dubbele moord op die egpaar George (68) en Wilma (65) Koster, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Weens ’n uitkenningsproses wat nog gehou moet word, mag geen foto’s van hulle tans gepubliseer word nie. Die staat het ook versoek dat hul name om hierdie rede weerhou word.”

Die Kosters se voertuig op die toneel. Foto: SAPD

Die paar staan teenoor twee aanklagte van moord en ’n bykomende aanklag van regsverydeling, aangesien hulle na bewering die misdaadtoneel ná die skietery verlaat het. OFM Nuus het voorheen berig die twee is Dinsdagaand (17/6) in hegtenis geneem nadat inligting, wat deur die polisie se misdaadintelligensie verkry is – gedeeltelik van gemeenskapslede – opgevolg is.

“Dit het gelei tot ’n gekoördineerde operasie waarby Rustenburg se eenheid vir sigbare polisiëring, Phokeng se honde-eenheid en beamptes van die polisie se triomisdaadtaakspan betrokke was. Tydens die optrede is twee mans (29 en 40) in hegtenis geneem.”

Volgens Myburgh het die polisie ook ’n wit Kia Rio teruggevind en ’n vuurwapen, wat vermoedelik in die noodlottige skietery van die Kosters gebruik is. Die paartjie is Saterdag (14/6) doodgeskiet nadat hulle hul voertuig langs ’n wit Kia Rio by die Platinum Square-winkelsentrum in Rustenburg parkeer het.

Begrafnisreëlings

Volgens kol. Myburgh het die slagoffers na bewering betrokke geraak in ’n dispuut met die insittendes van ’n wit Kia Rio wat langs hulle stilgehou het. Die motor, wat geen nommerplate gehad het nie, het van die toneel gevlug nadat skote afgevuur is.

’n Begrafnisdiens word Saterdag (22/6) om 14:00 vir die egpaar gehou in die Nuwe Apostoliese Kerk in Rustenburg.

Die polisie het nie die moontlikheid van nog inhegtenisnemings uitgesluit nie. Myburgh het aan OFM Nuus bevestig dat die polisie moontlik steeds ’n derde verdagte soek.

Enigiemand wat met die ondersoek kan help, kan lt.kol. Mainganyo Nathaniël Phatsoane by 082 373 9571 of lt.kol. Patrick Murunwa by 082 772 599 bel.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.