On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Rustenburg-egpaar: Beskuldigdes borgtog geweier

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:03 Thu, 17 Jul 2025

Rustenburg-egpaar: Beskuldigdes borgtog geweier | News Article
Die Koster-egpaar. Foto’s: Facebook

Die beskuldigdes in die moord op ’n egpaar van Noordwes is borgtog geweier weens verskeie risiko’s.

Onke Mbongo en Gift Mhlanga is Dinsdag (15/7) deur die Rustenburgse landdroshof borgtog geweier weens die erns van die aanklagte, die moontlikheid dat die beskuldigdes met die ondersoek kan inmeng en die risiko dat hulle kan vlug, sê Sivenathi Gunya. Hulle kom na verwagting weer op 4 September voor in die Rustenburgse landdroshof.

George (68) en Wilma (66) Koster is op 14 Junie in die parkeerterrein van die Platinum Square-winkelsentrum in Rustenburg doodgeskiet. Benewens twee aanklagte van moord staan Mbongo en Mhlanga ook tereg op aanklagte van regsverydeling nadat hulle na bewering probeer het om hul voertuig weg te steek ná die skietery.

Die beskuldigdes het tydens die borgtogaansoek aangevoer hulle het minderjarige kinders wat van hulle afhanklik is, hulle het geen vorige veroordelings of hangende sake nie en het ten volle met die polisie saamgewerk, sê Gunya. Hulle het ook verklaar hulle sou nie met getuies of bewyse inmeng nie of vervolging probeer ontduik nie.

Die tweetal is op 17 Junie in hegtenis geneem ná ’n wenk uit die gemeenskap, waarop die polisie se misdaadintelligensie-eenheid gereageer het.

Intussen betuig die egpaar se oudste seun, William, die familie se dank aan die gemeenskap vir hul ondersteuning. “Dit was ’n hartseer tyd vir ons gesin met die verlies van ons ouers, maar ek is oorweldig deur die ondersteuning en vriendelikheid van hierdie dorp,” het hy gesê.

Die Kosters se voertuig op die toneel. Foto: SAPD

Hy erken ’n lag pad lê vir hulle voor. “Genesing sal waarskynlik vir ewig duur. Baie van julle het my persoonlik genader, en ek vra verskoning as ek nie altyd onmiddellik gereageer het nie.”

Tydens ’n hofverskyning op 3 Julie het lt.kol. Patrick Murunwa, die ondersoekbeampte, getuig dat die beskuldigdes in ’n wit Kia by die winkelsentrum aangekom het en langs die Kosters se silwer Jeep geparkeer het.

Volgens Gunya het Mbongo die Kia se deur oopgemaak en na bewering die Jeep getref, wat George Koster daartoe gelei het om uit sy voertuig te klim om die skade te bepaal. ’n Onderonsie het gevolg.

“Mbongo het Koster (na bewering) eers met ’n vuurwapen doodgeskiet, waarna Mhlanga agteruitry begin ry het,” het Gunya gesê. “Wilma het na bewering die Kia se linker agterruit gebreek, waarna Mbongo haar (na bewering) ook geskiet het.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.