On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Sentrum vir bejaardes in Bethlehem vereer vir voedseldienspraktyk

───   SUSAN MARÉ 12:21 Thu, 13 Nov 2025

Sentrum vir bejaardes in Bethlehem vereer vir voedseldienspraktyk  | News Article
Engo-Vrystaat se trofee vir die Beste Voedseldienspraktyk in 2025 is aan die Bergprag-sentrum vir Bejaardes in Bethlehem oorhandig. Van links is Ansie Claasens (bestuurder: Huis Ougoud in Welkom, derde plek), Anne-Marié Zitzke (bestuurder Huis Emily Hobhouse in Koppies, tweede plek), Mariaan Briedenhann (bestuurder: Bergprag-sentrum), Rika Wolmarans (direkteur: bejaardesorg, Engo), Ida Britz (Engo) en De Wet Claassens (uitvoerende direkteur: Engo). Foto verskaf

Bergprag-sentrum vir bejaardes op Bethlehem is vanjaar nie net 21 jaar oud nie, maar is ook pas bekroon met die Engo Vrystaat-wisseltrofee vir die beste voedseldienspraktyk.

Bergprag-sentrum vir bejaardes op Bethlehem is vanjaar nie net 21 jaar oud nie, maar is ook pas bekroon met die Engo Vrystaat-wisseltrofee vir die beste voedseldienspraktyk.

Die ander Vrystaatse sentrums wat presteer het, is Huis Emily Hobhouse op Koppies (tweede) en Huis Ougoud in Welkom (derde).

Die toekenning aan Bergprag is ’n erkenning van uitmuntende werk wat personeel daagliks verrig om gesonde, smaakvolle en liefdevolle maaltye vir inwoners voor te sit, sê Engo. “Ons eer elke personeellid wat met toewyding en passie bydra tot hierdie prestasie. Julle harde werk en omgee maak Bergprag ’n plek van warmte en waardigheid.”

Die Bergprag-sentrum vir bejaardes vier vanjaar sy 21ste bestaansjaar. Van links is ds. Dawie Kriel (voorsitter), Mariaan Briedenhann (bestuurder), Rika Wolmarans (Engo se direkteur: bejaardesorg), Jan Wiid (voorsitter van die raad van trustees) en De Wet Claassens (Engo se uitvoerende hoofdirekteur). Foto verskaf

Die organisasie hoop dit sal die sentrum aanspoor om “steeds die hoogste standaarde van sorg en diens te handhaaf”.

Mariaan Briedenhann, Bergprag se bestuurder, vertel die Vrystaatse sentrums moet aan sekere maatstawwe voldoen waarvolgens die wenner aangewys word. Dis alles van personeelbestuur, spyskaartbeplanning, bestellings en werkskemas, voorraadbeheer, die bereiding en opdiening van voedsel, higiëne en beroepsgesondheid en -veiligheid tot spesiale diëte, indiensopleiding, skoonmaakdienste en die toepassing van mensgerigte versorging.

Engo het Bergprag onaangekondig op 21 Augustus besoek om toe te sien die sentrum voorsien in die voedingsbehoeftes van bejaardes en om seker te mark hy voldoen aan beleide, standaarde, riglyne en prosedures. Die organisasie het ook gekyk na aanvaarbare porsiegroottes volgens resepte en die uitvoerbaarheid daarvan in die praktyk as bewys.

Briedenhann vertel haar twaalf jaar lange verbintenis met Bergprag is een van genade en seën. “Ek voel uit my skoene geseën om deel van Bergprag te wees en elke dag (hier) is gevul met so baie verskillende emosies van blydskap en geluk, ook hartseer – tog is elke dag ’n nuwe avontuur.

“Met God as Stuurman en ’n wonderlike span personeellede weet ek dat Bergprag ’n standvastige voetstuk het waarop ewigheidswaarde gebou word.”

Uit Koppies laat weet Anne-Marié Zitzke Huis Emily Hobhouse bied sedert 1 Januarie 1977 sorg en verblyf aan bejaarde inwoners. “As sentrum is ons baie dankbaar vir die toekenning wat ons van Engo ontvang het. Dis ’n beloning vir die personeellede se toewyding aan die sentrum en ook ’n motivering om voort te gaan en daagliks ons beste te lewer.”

Ansie Claasens, Huis Ougoud in Welkom se bestuurder, sê: “Baie dankie aan OFM om ook aan ons erkenning te gee vir ons derde plek in die kompetisie. Engo doen gereeld inspeksies en ons waardeer die erkenning vir ons harde werk.

“Ek wil graag ons huishoudelike bestuurder en haar span in besonder bedank, asook ons inwoners wat ons op koers hou met nuwe voorstelle.”

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Susan Maré mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.