On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Veediefstal: Twee in Noord-Kaap en Vrystaatse speurder aangekeer

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:16 Thu, 04 Dec 2025

Veediefstal: Twee in Noord-Kaap en Vrystaatse speurder aangekeer | News Article
Die gesteelde vee wat in die Upington-omgewing teruggevind is. Foto: SAPD

Twee Noord-Kapenaars kom na verwagting Woensdag (12/4) voor in die Upingtonse landdroshof in verband met die diefstal van honderdduisende rand se vee.

Die verdagtes (33 en 35) is Woensdag (12/3) deur polisiebeamptes van Kenhardt op Upington aangekeer. Hulle het ’n klag opgevolg wat ’n plaaslike boer aanhangig gemaak het.

Die gesteelde vee se waarde word op sowat R200 000 geraam, sê sers. Merapelo Pilane, provinsiale polisiewoordvoerder. “Die boer het die diefstal van ’n groot aantal Meatmaster-skape aangemeld.

“Hul voorlopige ondersoeke het Upington se ondersoekeenheid vir veediefstal en bedreigde spesies, saam met polisiebeamptes van Paballelo, na ’n kleinhoewe naby Upington gelei.”

Daar het hulle afgekom op 68 skape, versteek in ’n sinkbousel, wat ooreenstem met die beskrywing wat die klaer verskaf het, sê Pilane. Die boer het die vee positief geïdentifiseer en die tatoeëermerke aan hul ore bevestig.

Die sinkplaathuis waar die verdagtes aangekeer is. Foto: SAPD

Hul verdere ondersoek het die polisie na ’n woonplek in Paballelo gelei, waar die twee verdagtes aangekeer is. Hulle is betrap met drie karkasse met identifikasiemerke soortgelyk aan dié wat die klaer aangemeld het.

Beamptes het ook beslag gelê op ’n vragmotor wat na bewering ingespan is om die misdaad te pleeg. Die verdagtes word aangekla van veediefstal en bly in polisieaanhouding tot hul eerste hofverskyning.

Intussen doen ’n Vrystaatse speurder (58) na verwagting Maandag (8/12) aansoek om borgtog, nadat veediefstaldossiere na bewering by sy huis gevind is.

Ao. Ferdinand Jacobus van Vuuren, van die eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies op Fouriesburg, het Maandag in die Bethlehemse landdroshof verskyn, sê ao. Fikiswa Matoti, Valke-woordvoerder.

Van Vuuren is Vrydag (28/11) deur die Valke in Bethlehem se ondersoekeenheid vir ernstige georganiseerde misdaad in hegtenis geneem.

Die voertuig wat moontlik vir die misdaad in die Upingtong-omgewing gebruik was. Foto: SAPD

Die polisie het beslag gelê op selfone, speekselmonsters, onvoltooide dossiere, polisieregisters en ammunisie wat by sy woning gekry is. Hy word aangekla van die onwettige besit van ammunisie en vermoedelik gesteelde eiendom.

Volgens Matoti is dit die tweede keer die afgelope tyd wat hy in hegtenis geneem word. Die vorige keer was nadat ’n ongelisensieerde vuurwapen glo by sy woning gevind is. Hy het toe in die hof verskyn en is op borgtog vrygelaat.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.