Central SA
Ingryping geëis in erg vervalle Parys-museum─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:41 Sat, 13 Dec 2025
Onmiddellike ingryping word by ’n Vrystaatse museum geëis wat in ’n erg vervalle toestand is.
Op ’n onlangse toesigbesoek aan die Parys-museum is bevind dit het oor die jare so erg agteruitgegaan dat die DA onmiddellike ingryping deur die Ngwathe-munisipaliteit eis. Die agteruitgang was nie oornag nie en is die gevolg van jare se verwaarlosing, sê JP de Villiers, DA-raadslid in die munisipaliteit.
Die probleem is ’n gebrek aan onderhoud, swak beplanning en die afwesigheid van verantwoordbaarheid,
“Daar is talle gebreekte vensterruite, beskadigde dakteëls en houtwerk aan die binnekant van die museum wat verrot.” Die museum word blootgestel aan die elemente, vandalisme en voortdurende strukturele verval.
Geen instandhouding
Die terrein is toegegroei en die heinings ondoeltreffend. Daar is vrye toegang en rommel lê versprei op die perseel. Rondlopers maak onwettig vuur, en daar is geen sigbare bewyse dat die munisipaliteit roetine-instandhouding doen of veiligheidsmaatreëls toepas nie, voeg De Villiers by.
Die munisipaliteit volg nou blykbaar die nodige proses om hulp aan te vra van Erfenis Vrystaat, die provinsiale owerheid verantwoordelik vir die identifisering en bestuur van erfenishulpbronne.
“Die munisipaliteit sê hy het die nodige vorm van Erfenis Vrystaat ontvang, en dat hy die vorm sal indien sodat die provinsie kan help met die opknapping van die museum.”
‘Die agteruitgang daarvan ondermyn die dorp se aantreklikheid vir toeriste’
De Villiers sê die DA sal ’n gedetailleerde versoek rig aan Futhuli Mothamaha, munisipale bestuurder, waarin onmiddellike ingryping geëis word. ’n Brief is aan die munisipaliteit se direkteur van gemeenskapsdienste gestuur.
Die gebou, wat in 1904 opgerig en in die vroeë jare 80 gerestoureer is, is ’n verklaarde provinsiale erfenisterrein en vorm deel van die breër Vredefortkoepel-wêrelderfenisgebied.
“Die agteruitgang daarvan ondermyn die dorp se aantreklikheid vir toeriste en ontneem inwoners ’n belangrike kulturele bate wat tot gemeenskapsidentiteit en ekonomiese aktiwiteit moet bydra,” sê De Villiers
Antwoorde geëis
Die DA rig die volgende versoeke:
• Besonderhede van alle instandhouding wat die afgelope vyf jaar by die Parys Museum uitgevoer is.
• Begrotingstoekennings vir herstelwerk, veiligheid en personeel oor die afgelope drie finansiële jare.
• Inligting oor enige restourasie- of stabiliseringsplanne wat bestaan, insluitend die tydlyne.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

