On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Bloem-kinders glo mishandel: Ma, kêrel volgende jaar weer voor

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:45 Sat, 13 Dec 2025

Bloem-kinders glo mishandel: Ma, kêrel volgende jaar weer voor | News Article
Adriaan Cornelius Seriven (geel hemp) en Wendy Nel (rooi hemp) in die hof. Foto: OFM Nuus

’n Bloemfonteinse ma verskyn weer volgende jaar in die hof op aanklag van poging tot moord op haar tweejarige seun en die mishandeling van haar vier kinders.

Die 34-jarige vrou het Vrydag (12/12) vlugtig in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn, waar sy op die aanklagte teen haar sou pleit. Die saak is uitgestel omdat pleitonderhandelings tussen die staat en die verdediging nog nie afgehandel was nie, sê Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die NVG in die Noord-Kaap.

Sy is sedert Oktober verlede jaar in aanhouding en sal na verwagting ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangaan wanneer sy in die nuwe jaar na die hof terugkeer.

Die vrou, wie se identiteit nie bekend gemaak mag word nie om die identiteit van haar kinders te beskerm, staan saam met haar 25-jarige kêrel en hul huismaats in die woonbuurt Noordhoek, Adriaan Cornelius Seriven (35) en Wendy Nel (40), tereg.

Betogers buite die hof met ’n vorige verskyning. Foto: OFM

Die vier word onder meer aangekla van poging tot moord en kindermishandeling.

OFM Nuus het vroeër berig die vier se beweerde dade het in September 2024 aan die lig gekom toe die ma haar tweejarige seun na die Pelonomi-hospitaal geneem het. Sy het beweer hy het geval. Die kleuter moes ’n noodoperasie ondergaan vir veelvuldige beserings.

Mediese personeel het hul kommer uitgespreek nadat hulle vasgestel het die kind se beserings stem nie ooreen met dié van ’n val nie, en het die polisie ingelig, sê Senokoatsane. “Die kleuter het noodoperasies benodig vir veelvuldige beserings, insluitend ernstige gesigbeserings.”

Vier kinders glo mishandel

Verdere ondersoeke het aan die lig gebring die kind se drie sibbes – vier, ses en nege jaar oud – is glo ook aangerand en verwaarloos.

Al vier kinders is uit die huis verwyder en in ’n plek van veiligheid geplaas waar hulle steeds versorg word.

Die ma, Seriven en Nel is voorheen borgtog geweier nadat dit aan die lig gekom het niemand by die adresse wat hulle verskaf het, was bereid om hulle in te neem nie.

Die kêrel is vroeër op borgtog van R1 000 vrygelaat. Hy word verteenwoordig deur prokureur Greg Nel, aangestel deur sy ma wat in Engeland woon, terwyl die ander beskuldigdes deur RegsHulp SA verteenwoordig word.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.