Central SA
Ander broer sterf ook ná skietvoorval by Chubby Chick─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:45 Sun, 14 Dec 2025
Die Fourie-familie van Noordwes het ’n tweede verlies gely nadat die ander slagoffer, wat langer as ’n maand om sy lewe geveg het ná ’n skietery, Sondag (14/12) oorlede is.
Deon Fourie (55) was sedert 10 November in die hospitaal. Sy broer, Johnathan (52), is op dieselfde toneel doodgeskiet.
“Deon het 10:45 aan sy beserings beswyk,” het Basil Kletz, ’n familievriend, aan OFM Nuus bevestig. ”Die familie is absoluut verpletter.
“Die ondersteuning, gebede en boodskappe van vertroosting vir die Fourie-gesin die laaste weke word diep waardeer. Ons (betuig hiermee ons) innige meegevoel met die familie ná die afsterwe van Deon so kort ná Johnathan. Dit is ongelooflik hartseer.”

Deon Fourie. Foto verskaf
Die skietvoorval het op die perseel van Chubby Chick, ’n hoenderaanleg in Potchefstroom, plaasgevind.
Luidens ’n verklaring deur die maatskappy net ná die voorval het die broers – albei direkteure – na bewering met Robert Joubert (73) vergader om ’n eiendomstransaksie te bespreek.
Joubert het glo die perseel ná die bespreking verlaat, maar ongeveer ’n halfuur later teruggekeer, waar hy die raadsaal binnegegaan en skote afgevuur het.

Robert Joubert word steeds onder polisiebewaking in die Potchefstroomse staatshospitaal behandel. Foto: X
Johnathan is op die toneel dood nadat hy geskiet is, terwyl Deon verskeie skietwonde oorleef het, insluitend ’n wond aan die nek. Hy is in ’n kritieke toestand hospitaal toe gehaas.
Veiligheidswagte het kort daarna opgedaag en Joubert is ook in die daaropvolgende skietgeveg gewond.
Joubert kon nie Donderdag (11/12) soos geskeduleer in die hof verskyn nie, aangesien hy steeds onder polisiebewaking is terwyl hy mediese behandeling ontvang, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.

Johnathan Fourie en sy vrou, Nadine. Foto: Facebook
“Joubert het ernstige skietwonde in albei arms opgedoen en ontvang behandeling in die hospitaal.”
Kletz het voorheen aan OFM Nuus gesê Deon het goeie sowel as moeilike dae in die intensiewesorgeenheid beleef.
Hy het verskeie mediese prosedures ondergaan, insluitend die verwydering van ’n dreineringspyp uit sy long, en het dialise ontvang terwyl dokters sy toestand noukeurig gemonitor het.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

