On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
Show Background
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-broers se skieter weer volgende jaar in hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:20 Sun, 21 Dec 2025

Noordwes-broers se skieter weer volgende jaar in hof | News Article
Johnathan en Deon Fourie. Foto's: Facebook

Die man wat na bewering twee broers van Noordwes doodgeskiet het, se hofsaak is tot 5 Januarie uitgestel in die hoop dat hy teen dan uit die hospitaal ontslaan sal wees en in die hof sal kan verskyn.

Robert Joubert (73) het Donderdag (18/12) in absentia in die hof verskyn op twee aanklagte van moord.

Hy het na bewering op Johnathan Fourie (52) en sy broer Deon (55) op 10 November losgebrand. Johnathan is op die toneel dood. Deon is in die hospitaal opgeneem en is op 14 Desember weens komplikasies van sy skietwonde dood. 

Joubert is ook tydens die skietery gewond en word steeds in die provinsiale hospitaal in Potchefstroom behandel. 

“Joubert is steeds onder polisiebewaking in die hospitaal,” sê die provinsiale polisiewoordvoerder, kol. Adéle Myburgh.

Ander broer sterf ook ná skietvoorval by Chubby Chick | News Article

Deon (links) en Johnathan Fourie saam met hul pa, John. Foto: Verskaf

“Die afgelope weke se ondersteuning, gebede en boodskappe van vertroosting vir die Fourie-familie word baie waardeer. Ons betuig ons diepste meegevoel aan die familie na die afsterwe van Deon so kort na Johnathan. Dit is ongelooflik hartseer,” het ’n familievriend, Basil Kletz, aan OFM Nuus gesê. “Die familie is absoluut verpletter.”

'Die Fourie-familie is verpletter'

Die skietery het plaasgevind op die perseel van Chubby Chick, ’n hoendermaatskappy in Potchefstroom.

Volgens ’n verklaringwat deur die maatskappy wat kort na die skietvoorval uitgereik is, het die broers –albei direkteure van die maatskappy – na bewering met Joubert vergader om ’n eiendomstransaksie te bespreek.

Joubert het na bewering die perseel verlaat, maar ongeveer ’n halfuur later teruggekeer, die raadsaal binnegegaan en begin skiet.

Robert Joubert is  onder polisiebewaking in die provinsiale hospitaal in Potchefstroom. Foto: X

Johnathan is op die toneel dood en Deon het veelvuldige skietwonde opgedoen. Veiligheidswagte het opgedaag en Joubert is in die daaropvolgende skietery gewond. Beide Deon en Joubert is hospitaal toe gehaas. 

Kletz het voorheen aan OFM Nuus gesê Deon het beide goeie en moeilike dae in die intensiewe sorgeenheid beleef.

Hy het verskeie mediese prosedures ondergaan, insluitend die verwydering van ’n dreineringspyp uit sy long, en is op dialise geplaas terwyl dokters sy toestand noukeurig gemonitor het.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066487 1427

OFM Nuus/Charne van der Merwe


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.