Central SA
Tiener van Welkom vas oor dwelms, kontant in plafon─── CHARNÉ VAN DER MERWE 07:46 Sun, 21 Dec 2025
'n Tienerseun is in hegtenis geneem vir beweerde dwelmhandel en sal binnekort in die hof verskyn.
Die 17-jarige is in hegtenis geneem nadat ’n polisie-operasie in Meloding ’n voorraad dwelms en kontant by sy huis ontdek het, sê provinsiale polisiewoordvoerder sers. Palesa Thabana.
"Die minderjarige is Saterdag (20/12) aangekeer toe lede van die Welkom se openbareorde-polisie besig was met misdaadbestryding in die gebied.
"Ons het inligting ontvang oor ’n plek waar dwelms deur ’n minderjarige verkoop word. Met die polisie se aankoms by die betrokke huis het hulle toestemming gevra om dit te deursoek.
Volgens Thabana is dit toegestaan.
Byna R10 000 kontant
"Tydens die deursoeking het die polisie dwelms en geld ontdek wat tussen dakbalke in die plafon versteek was."
Thabana bevestig beamptes beslag gelê op 121 ritssluitsakkies met kristalmet, 21 kwarte mandrax-tablette en twee halwe mandrax-tablette, met ’n geraamde straatwaarde van R6 395, tesame met kontant van altesame R9 828.
'Dwelms en geld is ontdek waar dit tussen dakbalke in plafon versteek was'
“Die minderjarige is in hegtenis geneem vir dwelmhandel. Hy is sedertdien onder ouerlike toesig vrygelaat, maar sal binnekort in die Virginia-landdroshof verskyn.”
Owerhede doen ’n beroep op die gemeenskap om waaksaam te bly en enige verdagte aktiwiteite aan plaaslike wetstoepassing te rapporteer.
“Ons operasies is daarop gemik om die gemeenskap te beskerm en te verhoed dat minderjariges aan kriminele aktiwiteite deelneem,” sê Thabana.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

