On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Klerkdorp-moordverhoor vir tweede keer uitgestel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:13 Tue, 03 Feb 2026

Klerkdorp-moordverhoor vir tweede keer uitgestel | News Article
Wernich Botha verskyn in die hof op aanklagte van moord op Hilton Pretorius. Foto: Charne van der Merwe

Die verhoor van die Noordwes-man, wat beskuldig word van moord ná ’n voorval op ’n parkeerterrein byna drie jaar gelede, is tot 18 Mei uitgestel.

Wernich Botha se moordverhoor sou aanvanklik Maandag (2/2) in die Klerksdorp-streekhof hervat geword het. Die saak is egter uitgestel nadat die landdros weens persoonlike omstandighede nie die hofsaak kon bywoon nie.

Botha, wie se saak in Mei vir vier dae op die rol geplaas is, word daarvan beskuldig dat hy Hilton Pretorius geslaan het, wat na bewering 18 dae later tot Pretorius se dood gelei het.

Hy staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord. Botha word daarvan beskuldig hy het Pretorius se dood veroorsaak en die sakeman PW Roos aangerand.

Hilton Pretorius en Natasha van der Merwe (née Fischer). Foto: Facebook

Linday Mey, Pretorius se ma, sê die uitstellery krap hulle om, maar “ons respekteer die hof se reëlings en is dankbaar vir almal se betrokkenheid, wat ons vandag steeds met ons saamdra”.

Sy sê niemand verstaan wat die familie deurmaak nie. “Die een persoon wat ons bymekaargehou het, wat altyd sy tyd vir almal opgeoffer het, is dood, weg. Nooit weer sal ek my kind kan vashou nie; nooit weer sal jy jou kind van die rugbyveld af aanmoedig nie.

“Ons probeer mekaar versterk en by mekaar staan, maar die hartseer is altyd naby. Ek besef dat niks Hilton kan terugbring na ons almal wat hom so diep liefgehad het nie.”

Pretorius het twee laerskoolkinders wat by hul ma, sy eksvrou, woon. “Hy sal nooit weer ’n baba-cappuccino saam met hulle kan drink nie.” 

Klerksdorp-vermoorde se familie hoop vir geregtigheid | News Article

Pretorius se ma, Linda Mey, sy suster Lindie Geldenhuys en broer Danie Pretorius verlede jaar in die hof. Foto: Charne van der Merwe

In die voorval op 1 September 2023 buite Cadillac se 60s Pub in Doringkruin, Klerksdorp, het Pretorius ernstige kopbeserings opgedoen. Roos het ’n skouerbesering opgedoen.

Botha ontken enige oortreding en beweer hy het uit selfverdediging opgetree. Hy ontken ook die aanklag van poging tot moord en beweer Roos het hom eerste geslaan.

Botha kan slegs met tussenposes van drie maande hofverrigtinge bywoon as gevolg van sy werk as ’n onderhoudswerker by ’n kamp in Somalië. Hy werk daar vir drie maande op ’n slag voordat hy vir drie weke na Suid-Afrika terugkeer.

Die verhoor, wat op 2 Augustus sou hervat nadat die verrigtinge in Mei 2025 begin het, is voorheen uitgestel toe Botha se regsverteenwoordiger, Hennie du Plessis, weens ’n misverstand nie in die hof verskyn het nie.

Hilton Pretorius het ernstige kopbeserings opgedoen en is 18 dae ná die voorval in September 2023 oorlede. Foto: Facebook

Tydens die verhoor in Mei het Natasha van der Merwe (voorheen Fisher), wat Botha se meisie ten tyde van die voorval was, getuig Botha het onverwags op 1 September uit Somalië teruggekeer en Pretorius by haar huis gekry. Sy en Pretorius was voorheen in ’n verhouding.

Volgens haar getuienis het Botha Pretorius aangerand terwyl hy geslaap het, wat gelei het tot ’n konfrontasie wat in die straat en later by die kroeg, waar die noodlottige voorval plaasgevind het, voortgeduur het.

Natasha van der Merwe in die getuiebank. Foto: Charne van der Merwe

Van der Merwe het verder getuig Pretorius het honderde boodskappe aan haar gestuur waarvan sy sommige as dreigend beskryf het.

Sy het volgehou Botha het uit selfverdediging opgetree en probeer om hulp aan Pretorius te verleen ná die aanranding terwyl hulle vir ’n ambulans gewag het.

Botha is kort ná die voorval in hegtenis geneem en is later op borgtog van R2 000 vrygelaat.

Caswell Ntoyi tree as aanklaer op, terwyl Kobus Burger en Hennie du Plessis Botha se verdediging behartig.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.