Central SA
Reitz, Lindley, Petrys Steyn spitstye sonder krag weens Eskom-skuld─── MORNÉ VAN ROOYEN 15:54 Tue, 28 Apr 2026
Drie Vrystaatse munisipaliteit se ligte bly vir eers aan danksy skuldreëlings met Eskom, maar daaglikse kragonderbrekings tydens spitstye is inwoners van Reitz, Lindley en Petrus Steyn se voorland.
Nketoana-munisipaliteit het nie ’n vinger gelig om die twee uur lange onderbrekings soggens en drie uur saans af te weer nie, sê Stefanie Jansen van Rensburg, van Eskom se afdeling vir bedryfsondersteuning en belanghebbendebestuur. Nala, Masilonyana en Ngwathe kon betyds reël om te onderhandel oor die delgings van agterstallige skuld vir grootmaat-kragvoorsiening.
Nketoana het geen poging aangewend om ’n ooreenkoms aan te gaan nie, sê Jansen van Rensburg; daarom sal Lindley, Petrus Steyn en Reitz se krag vanaf 8 Mei daagliks van 07:00 tot 09:00 en weer van 18:00 tot 21:00 afgesny word. Inwoners van Bothaville en Wesselsbron, Theunissen, Brandfort en Winburg, en Parys, Heilbron en Vredefort spring dié ongerief vry.

Inwoners van Reitz sal soggens en saans sonder krag moet klaarkom. Foto: Facebook/Estelle Olwage
“As tussentydse maatreëls en terwyl die verspreidingsagentskap-ooreenkomste afgehandel word, bly dit die munisipaliteite se verantwoordelikheid om hul bestaande rekeninge te betaal,” sê Jansen van Rensburg. “Die onderbreking of vermindering van grootmaat-kragvoorsiening bly dus opgeskort mits hulle hul lopende rekeninge betaal terwyl die ooreenkoms afgehandel word.”
In kennisgewings op 6 Maart kragtens die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid het Eskom gewaarsku die vier Vrystaatse munisipaliteite se versuim om hul kragrekeninge teen die keerdatum te betaal, sou daartoe lei dat hul kragvoorsiening onderbreek word, tensy die munisipale raad met Eskom ooreenkom om dit af te betaal.

Lindley, wie se krag ook vyf uur per dag onderbreek gaan word, is die geboorteplek van ’n geliefde Suid-Afrikaanse ontbytkos. Foto: Facebook/DustBugs Travel
Nadat Eskom voorleggings van die publiek oorweeg het oor sy voorneme om Nketoana se krag te onderbreek, het die kragvoorsiener besluit dat die voorleggings geen oplossing bied wat hom in staat sou stel om aan te hou om elektrisiteit volhoubaar aan die munisipaliteit te lewer nie, sê Jansen van Rensburg.
“Die munisipaliteit het ook in gebreke gebly om ’n resolusie te aanvaar om ’n ooreenkoms met Eskom te sluit,” sê sy, “vir ’n terugbetalingsooreenkoms ingevolge waarvan Eskom net die grootmaatkrag lewer wat die munisipaliteit kan bekostig, of ’n ooreenkoms aangaan waarvolgens die munisipaliteit se verbruikers Eskom direk vir hul kragverbruik betaal.”
Eskom het Nketoana Donderdag (23/4) in ’n skrywe gewaarsku hy beplan kragonderbrekings. “ ’n Kennisgewing in dié verband is (Vrydag) in die Journal News gepubliseer en sal Woensdag in die koerant Vrystaat Kroon herhaal word.
Alle belanghebbendes wat daadwerklik en nadelig deur Eskom se besluit geraak kan word, word gemaan om die nodige maatreëls te tref om die uitwerking van die kragonderbrekings te verminder.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

