Central SA
Vrystaatse oudpolisieman wil aansoek doen om borg hangende vonnisoplegging─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:40 Thu, 14 May 2026
’n Voormalige Vrystaatse polisieman, wat skuldig bevind is aan aanklagte van poging tot moord en intimidasie, sal na verwagting Vrydag (15/5) in die streekhof in Welkom aansoek doen om borgtog terwyl hy op vonnisoplegging wag.
Die staat sal na verwagting die aansoek teenstaan. Daniel Fourie is in aanhouding sedert die vonnisopleggingsverrigtinge teen hom en sy vrou, Anna Francina Fourie, op 8 April uitgestel is.
Die streekhof het die uitstel toegestaan nadat die verdediging tyd versoek het om reëlings te tref vir die egpaar se gestremde kind (34). Anna se waarskuwing is verleng.

Van die graffiti wat ter sprake is in die saak. Foto verskaf
Die egpaar is die dag vantevore skuldig bevind aan meer as duisend aanklagte van intimidasie en crimen injuria ná ’n langdurige vete met die broers Manny Jardim en José Jardim. Fourie het toe sy eerste nag agter tralies deurgebring.
Die vonnisoplegging is vir 4 Junie op die rol geplaas. Die skuldigbevindings hou verband met graffiti wat oor etlike jare op brûe, padtekens en mure oor die Goudvelde geverf is.
Die egpaar is ook skuldig bevind aan poging tot moord in verband met voorvalle waarin een van die broers se huise na bewering met ’n spykerbom geteiken is en skote op die eiendom afgevuur is.

’n Voorbeeld van die graffiti. Foto verskaf
Een van die koeëls het na bewering ’n kind gemis. Hulle is ook skuldig bevind aan bykomende intimidasie-aanklagte.
Die verdediging sal na verwagting ’n maatskaplike werker se verslag by die volgende hofverskyning indien om verdere besonderhede oor die toestand van die egpaar se kind te verskaf.

Daniel Jacobus Fourie en sy vrou, Anna Francina, by die hof. Foto: Charne van der Merwe
Fourie is voorheen uit die polisie ontslaan na bewerings van kriminele gedrag. Hy het ook teen die skuldigbevinding geappelleer.
Die verhoor is met die jare telkens vertraag, onder meer weens ’n doktersbrief wat namens Anna ingedien is met bronchitis, asook Fourie se versoek vir ’n tolk, ten spyte daarvan dat hy voorheen vrae in Engels beantwoord het.
Adv Allen Simpson is ingevolge Artikel 38 van die NVG-wet aangestel om namens die vervolging op te tree.
OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

