On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Moedige ma se stryd teen onsigbare outo-immuunsiektes se daaglikse pyn

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:46 Wed, 27 May 2026

Moedige ma se stryd teen onsigbare outo-immuunsiektes se daaglikse pyn | News Article
Anelie en haar dogter, Zonja. Foto verskaf

Jare lank moes sy hoor die ondraaglike pyn wat deur haar liggaam skeur, is “alles in haar kop”.

Ná dekades van lyding, slapelose nagte en die stadige verlies van stukkies van die lewe wat sy eens geken het, veg Anelie Coetzee (53) van Kleinmond ’n daaglikse stryd teen verskeie outo-immuunsiektes. Dit dreineer haar emosioneel en maak haar onseker oor wat nog vir haar voorlê.

Wat as kwaai rugpyn begin het toe sy net elf jaar oud was, is herhaaldelik afgemaak as “niks”. Dokters het selfs voorgestel dat sy ’n sielkundige spreek, hoewel die pyn jaar ná jaar vererger het.

Die familie het eers ná die geboorte van Coetzee se jongste dogter, Zonja Janse van Rensburg (19), besef hoe ernstig Coetzee se toestand werklik is toe sy tydelik in ’n rolstoel beland het omdat sy nie meer behoorlik kon loop nie.

Anelie en Johan op hul troudag.

“Dit was die eerste keer dat ons besef het iets is ernstig verkeerd,” sê Anel Spies (30), haar oudste dogter. Selfs tóé het die familie nog antwoorde gesoek. Dit het byna ’n dekade geduur voordat Coetzee eindelik reg gediagnoseer is.

Vandag leef sy met verskeie chroniese siektes, insluitend rumatoïede artritis, Sjögren-sindroom, Raynaud-sindroom, fibromialgie, ankiloserende spondilitis, prikkelbaredermsindroom, hipertireose, skyfdegenerasie, ystertekort en hipertensie.

“Sy raak gewoonlik eers omtrent vieruur in die oggend aan die slaap en word weer seweuur wakker,” vertel Anel. “Daarna duur dit haar amper ’n uur om net uit die bed te kom, want haar gewrigte het tyd nodig om op te warm.”

Anelie en haar dogters, twee jaar voor haar diagnose. Foto verskaf

Eenvoudige take wat baie mense as vanselfsprekend aanvaar, het uitdagings geword. Coetzee se hande is so verswak dat sy sukkel om iets vas te hou.

Party dae kan sy skaars haar arms hoog genoeg lig om ’n hemp oor haar kop te trek. Om lang afstande te loop, te buig of selfs te kook het pynlik geword.

'Mal oor skilder en met kleinkinders te speel'

“Sy was mal daaroor om te skilder, te werk en saam met haar kleinkinders te speel,” vertel Anel. “Sy is gedwing om haar werk prys te gee omdat die stres, pyn en uitputting ondraaglik geword het.”

Voordat haar gesondheid versleg het, het Coetzee by ’n universiteit gewerk. Sy het die huis reeds voor 05:00 verlaat om 80 km werk toe te ry. “Sy was hardwerkend, onafhanklik en iemand wat altyd alles vir almal sou doen.”

Anel, Zoja en hul ma, Anelie. Foto verskaf

Coetzee is ook die laaste paar jaar deur traumatiese gebeur. In 2016 is sy by die werk aangerand en is ook byna gekaap. “Dit was asof die trauma die outo-immuunsiektes veroorsaak het,” sê Anel.

Haar ma is iemand wat nog altyd selfstandig en sterk was. “Sy het haar hele lewe lank vir haar gesin gesorg. Om nou afhanklikheid van mense te wees is een van die moeilikste emosionele uitdagings waarmee sy sukkel.”

'Ondanks die pyn hou sy vas aan haar geloof'

Die emosionele tol het ook haar selfvertroue en selfbeeld diep geraak. “Sy kan nie meer self haar hare doen nie, want haar arms en skouers werk nie saam nie.

“Haar tande begin verkrummel en die groot glimlag waarvoor almal haar geken het, verdwyn stadig. Deesdae vermy sy openbare plekke omdat sy nie meer soos haarself voel nie.”

Ondanks die pyn hou Coetzee steeds styf vas aan haar geloof. “Sy probeer sterk bly en nie in depressie verval nie, maar daar is dae waar sy treur oor die lewe wat sy eens gehad het,” sê haar dogter. “Haar geloof en verhouding met die Here is wat haar aan die gang hou.”

Sewe mense onder een dak

Die gesin se geldelike situasie het ook ál moeiliker geword. Ná die Covid-19-pandemie moes Coetzee en haar man, Louis, by Anel, haar man en hul kinders intrek om koste te bespaar.

Vandag woon sewe mense onder een dak. “Op klein dorpies is inkomste beperk, en elke maand is ’n stryd,” vertel Anel. “Daar is tye waar dit moeilik raak om net genoeg kos op die tafel te sit.”

Toegang tot mediese sorg het selfs meer frustrasie bygedra. Die wagtydperk om spesialiste op Worcester te spreek, kan tot byna ses maande wees, terwyl Coetzee se simptome vererger.

'Net om self uit die bed te kom, is ’n groot oorwinning'

Een van haar grootste vrese is dat sy rolstoelgebonde en ten volle afhanklik van ’n versorger kan word. Eenvoudige take soos om selfs net om uit die bed te kom, behoorlik te loop vir ’n dag of nie te voel dat haar liggaam ingee nie, is vir haar groot oorwinnings.

Die familie hoop deur Coetzee se storie te deel, sal meer mense die verborge werklikheid van chroniese siekte en onsigbare pyn begin verstaan.

“Mense dink as iemand nie siek lýk nie, is hulle nie regtig siek nie,” sê Anel. “Chroniese pyn is nie altyd sigbaar nie. Ek sukkel, maar ek sal elke dag vir my kinders, kleinkinders en familie aanhou baklei.”

Die familie het met ’n geldinsamelingsinisiatief begin om te help met mediese koste en daaglikse lewenskoste namate Coetzee se toestand steeds versleg.

OFM Nuus/Charne van der Merwe   cvdw

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.