Central SA
Eksvrou van vermoorde Welkom-prokureur hoor dán haar vonnis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:14 Wed, 10 Jun 2026
Die Vrystaatse vrou wat skuldig bevind is aan die moord op haar eksman, ’n prokureur, sal na verwagting Woensdag (10/6) gevonnis word.
Linda van der Heever (64) verskyn in die rondgaande hooggeregshof in Welkom verskyn waar die staat en verdediging hul slotbetoë sal lewer.
Sy is op 22 Desember skuldig bevind aan die moord op haar eksman, André van den Heever (64).
Op Vrydag (5/6) het sy in die hof ’n reeks briewe aan verskeie mense voorgelees, insluitend haar biologiese ma, Rina, haar dogter, Melissa van den Heever, haar voormalige vriend, Kiewiet van der Westhuizen, asook familielede soos haar oupa Hannes en ouma Kleintjie. Sy het ook ’n brief aan André gerig.
Die hof het vroeër ook getuienis oor slagofferimpak aangehoor.
Toe sy deur die staat gevra is waarom sy nie ook ’n brief aan haar seun, Christopher van den Heever, geskryf het nie, het sy verduidelik hulle praat gereeld met mekaar. Melissa het haar egter "afgeskryf".

Wyle André van den Heever. Foto: Facebook/Christopher van den Heever
Sy glo ouma was haar ma
In briewe aan haar ma en ouma het sy verwys na haar vroeë lewensomstandighede en "komplekse familiegeskiedenis". Volgens haar het sy lank geglo haar ouma is haar ma, totdat sy later verneem het Rina is eintlik haar biologiese ma en dat sy vir aanneming afgestaan is.
Sy beskryf dié onthulling as traumaties.
Sy voer aan dat sy van kleins af gevoelens van verwerping teenoor Rina ervaar het, nog voordat sy van hul biologiese band geweet het. Sy beweer Rina het emosionele skade veroorsaak en dat sy as kind “weggegooi” gevoel het.
Volgens haar was haar grootwordjare onstabiel en moes sy by verskeie skole aanpas weens gereelde verhuisings tussen provinsies saam met Rina en haar ma se vriend, Dirk. Sy beweer sy is ná standerd agt meegedeel dat sy nie verder finansieel ondersteun sal word nie en self werk moes gaan soek.
In ’n brief aan Melissa sê sy, sy het probeer om vir haar kinders ’n stabiele huis te bied en het altyd gesorg vir goeie klere, skoene en verjaarsdagkoeke. Sy beweer haar persoonlike besittings is ná André se dood sonder haar toestemming deur Melissa weggegee, en versoek dat dit aan haar terugbesorg word wanneer sy haar lewe weer begin opbou.
Die verhouding tussen haar en Melissa het volgens haar ná André se dood verder agteruitgegaan, en hulle is tans vervreem van mekaar. Sy vra Melissa om haar broer, Christopher, goed te behandel, aangesien hulle mekaar "in die toekoms sal nodig hê".
Sy glo Melissa verkies ander mense bo haar eie familie en dat sy nie op haar dogter vir sorg kan staatmaak nie.
In haar brief aan André beskryf sy hul huwelik as "emosioneel afsydig". Sy beweer hy het selde fisieke liefde betoon en vermoed dit is omdat hy self nie in ’n liefdevolle huis grootgeword het nie.
Sy getuig verder dat hy dikwels nie ondersteunend was nie – hetsy in gesin- of openbare situasies – en altyd sy sin wou hê. Volgens haar het sy hom nooit regtig leer ken nie, al het hy alles van haar verlede geweet.
Buite-egtelike verhoudings
Sy beweer sy het eers ná hul huwelik bewus geword van sy epilepsie, kleurblindheid en gehoorverlies, wat haar baie ontstel het toe dit na vore gekom het. Gebrek aan erkenning op spesiale geleenthede, soos verjaarsdae en Kersfees, is ook genoem.
Sy beweer sy het groot finansiële verantwoordelikhede gedra gedurende sekere tye van die huwelik, insluitend die ondersteuning van die huishouding terwyl hy vir ’n regsgraad gestudeer het. Sy het bygedra tot eiendomsverkryging, vervoer en die oprigting van sy regspraktyk, insluitend die inrigting van sy kantoor.
Volgens haar het André ook buite-egtelike verhoudings gehad.
‘Ek moes vroeër die verhouding verlaat het, maar het nie’
Getuienis het ook verwys na emosionele mishandeling – onder meer beledigings en opmerkings oor haar opvoeding en vermoë om te slaag. Sy sê hy was afwesig in die daaglikse sorg van hul kinders.
Sy beskryf emosionele spanning, insluitend angs, slaapprobleme en vrees, asook beweerde fisieke konfrontasies.
Sy sê sy moes vroeër die verhouding verlaat het, maar het nie, ten spyte van wat sy beskryf het as “verborge aspekte van sy lewe” wat later aan die lig gekom het.
In haar brief aan Kiewiet van der Westhuizen beskuldig sy hom van oneerlikheid, manipulasie, herhaalde leuens, ’n gebrek aan respek en woedeverwante gedrag.
Oor die dag van die voorval het sy aan die hof gesê sy onthou nie alles duidelik nie en het dit as "traumaties en deurmekaar" beskryf ná ’n beweerde gewelddadige konfrontasie.
Ten slotte sê Linda sy het André en sy familie vergewe vir hoe hulle haar deur die jare hanteer het en vra sy ook om vergifnis.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvdw
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.




