Central SA
Eureka Laerskool jaag om die wêreld tydens kaskarresies!─── 14:38 Mon, 31 Aug 2026
Sponsored14:38 Mon, 31 Aug 2026
Eureka Laerskool in Kimberley nooi families en die gemeenskap om op 12 September 2026 saam te kuier tydens ’n dag vol spoed, pret, heerlike kos en vermaak wanneer die skool se “Race Around the World”-kaskarresies plaasvind.
Cat van der Merwe gesels met Gareth Clarke, Sport Organiseerder van Laerskool Eureka:
Die tema vir vanjaar se geleentheid is Race Around the World, en elke graad het reeds ’n land gekies wat hulle op die dag gaan verteenwoordig. Leerders en klasse sal volgens hul gekose land aantrek, wat beloof om vir ’n kleurvolle en feestelike atmosfeer te sorg.
Die dag skop reeds 07:30 af met ’n optog rondom die baan, waarna die aksie van 08:00 tot 12:30 voortduur. Al die leerders, vanaf Graad RR tot Graad 7, sal aan die dag se aktiwiteite deelneem.
Die jonger leerders, van Graad RR tot Graad 1, gaan hul vaardighede op ’n opwindende hindernisbaan toets, terwyl die res van die skool aan die kaskarresies gaan deelneem. Die kaskarre word voorsien en word deur verskeie motorhandelaars geborg.
Maar dit gaan nie net oor spoed nie. Die klasse se rondtes sal getel word en die klas met die meeste rondtes sal ’n prys ontvang.
Die leerders is ook aktief betrokke by fondsinsameling. Elke leerder het ’n lootjievorm ontvang waarmee borggeld ingesamel kan word. Die leerder wat die meeste geld insamel, sal ’n kontantprys ontvang, met pryse ook vir die tweede en derde plek.
Daar is verder pryse vir die graad wat die meeste geld insamel, sowel as vir die onderwyser van die klas wat die meeste geld insamel.
Die kompetisie strek ook na die verskillende grade se stalletjies. Die graad wat die meeste geld by sy stalletjie insamel, sal ’n gedeelte van die bedrag wat ingesamel is, ontvang om weer in die graad se akademiese ontwikkeling terug te ploeg.
Gemeenskapslede, familie en vriende wat graag ’n deelnemer wil ondersteun, kan dit deur middel van die leerders se lootjievorms doen. Kontak Eureka Laerskool vir meer inligting oor hoe om ’n leerder of klas te ondersteun.
Heerlike kos en pret vir die hele gesin
Dit sal nie net ’n dag van resies wees nie. Besoekers kan uitsien na ’n groot verskeidenheid kos wat te koop aangebied gaan word.
Op die spyskaart is onder meer net om ‘n paar eetgoed te noem:
- French fries
- Nachos
- Pulled pork-roosterkoeke
- Nuggets op ’n stokkie
- Hamburgers
- Sticky wings
- Groot pretzels
- Boerewors
- Sosaties
Daar sal ook ’n pretpark wees met springkastele, spookasem, slush, roomys, lekkers en nog vele ander lekkernye en vermaaklikhede vir die jongspan.
Met iets vir almal – van adrenalienbelaaide kaskarresies en hindernisbane tot heerlike kos en familiepret – beloof Eureka Laerskool se Race Around the World ’n dag te wees waar oud en jonk saam kan kom kuier en die gees van die skool en sy gemeenskap kan vier.
Maak dus seker dat jy 12 September 2026 op jou kalender merk en kom geniet ’n heerlike dag saam met Eureka Laerskool.
Race Around the World – ’n wêreld vol spoed, pret en familiekuier!
Kontak: Gareth Clark 079 069 4153 of Laerskool Eureka 087 310 5310.


