Central SA
Negende vrou se liggaam gevind midde-in Oos-Randse moordondersoek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:32 Thu, 17 Sep 2026
Die liggaam van ’n negende vrou is Donderdag (17/9) op die Oos-Rand gevind.
Die liggaam is langs die pad in Dawn Park, Boksburg, gekry. Sy was halfnaak en in ’n laken toegedraai, sê brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder.
Agt vroueliggame is sedert Julie in verskeie dele van die Oos-Rand gevind. Die sake word deur ’n gespesialiseerde multidissiplinêre taakspan ondersoek, maar die polisie het nog nie bevestig of al die sake met mekaar verband hou nie.
Die polisie het ’n R400 000-beloning uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisneming van diegene wat vir die moorde verantwoordelik is, kan lei. Die DA het intussen R500 000 bygevoeg.

Itumeleng Kekana van Qwaqwa. Foto verskaf
“Die beloning is bedoel om die werk van wetstoepassers te ondersteun en mense aan te moedig om inligting oor die moorde aan die polisie oor te dra,” sê Khathutshelo Rasilingwane, DA-burgemeesterskandidaat van Ekurhuleni-.
Die polisie het intussen bevestig die meeste van die slagoffers is seksueel aangerand. “Die meeste vroue is gedeeltelik geklee gevind, terwyl twee van die liggame heeltemal naak was,” sê lt.genl. Tebello Mosikili, waarnemende nasionale polisiekommissaris.
Een liggaam was egter reeds in ’n gevorderde stadium van ontbinding, wat dit moeilik maak om vas te stel of dié slagoffer ook op dié wyse aangerand is. Die polisie het nog nie ’n motief vir die sterftes vasgestel nie en ondersoek ook of enige van die slagoffers vermink is.
Drie van die slagoffers wat reeds uitgeken is, is Itumeleng Kekana (32) van Qwaqwa in die Oos-Vrystaat, Elizabeth (Tsontso) Moselakgomo (38) en Dineo Evelyn Motapane (38). Moselakgomo se liggaam is Maandag (14/9) ontdek, nadat sy die vorige Woensdag gaan draf het en nie weer huis toe teruggekeer het nie. Kekana is op 17 Julie deur haar familie as vermis aangemeld.
Haar naakte liggaam is op 3 Augustus langs die Great North Road in Pomona, Kempton Park, naby ’n rivier langs die R21 gevind. Motapane se oorskot is Dinsdag (15/9) naby die N17-hoofweg in Kwathema, Springs, gevind. Sy is Sondag die laaste keer lewend gesien.

Elizabeth (Tsontso) Mokolo Moselakgomo. Foto verskaf
Mathe sê 17 vroue is sedert Januarie in die omgewing van Kempton Park as vermis aangemeld, van wie 13 sedertdien opgespoor en met hul naasbestaandes herenig is.
Enigiemand met inligting wat met die nege sake verband kan hou, word versoek om ao. Elvis Manyike by 082 465 7249 te bel, Stop Misdaad by 08600 10111 te bel of inligting by enige polisiekantoor aan te meld.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
