Central SA
Sleutelgetuie verander glo weergawe in Aliwal-moordverhoor─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:45 Wed, 23 Sep 2026
Die staat se sleutelgetuie in die beweerde huurmoordverhoor van ’n Oos-Kaapse vrou moes op die vierde dag van kruisondervraging verduidelik waarom sy weergawe oor geld, ’n huurmoordenaar en sy optrede ná ’n polisieverklaring telkens sou verander.
Anélle de Bruin het Woensdag (22/9) in die Aliwal-Noord-streekhof verskyn. Sy word aangekla dat sy saamgesweer het om haar eksman, Johan, te laat vermoor en dat die moord soos ’n plaasaanval moes lyk.
’n Groot deel van die ondervraging was toegespits op die R4 400 wat De Bruin op 9 Januarie verlede jaar, die dag waarop die aanval sou plaasgevind het, aan die getuie betaal het.
Die getuie het vroeër beweer die bedrag was ’n deposito vir ’n beweerde huurmoordenaar. Adv. Allen Simpson het egter aangevoer die geld is eintlik aan die getuie geleen om ’n uitstaande rekening by die Senqu-munisipaliteit te betaal.
Die getuie het na bewering De Bruin oor die doel van die R4 400 mislei en die rekening het glo nooit bestaan nie. Simpson het verder gesê volgens die getuie se eie getuienis, was daar nooit werklik ’n huurmoordenaar nie. Die getuie het uiteindelik toegegee hy het vir De Bruin gelieg oor die beweerde betaling aan ’n huurmoordenaar.
Die hof het ook gehoor die getuie het geld aan De Bruin geskuld. De Bruin het oor ’n tydperk groot bedrae aan hom geleen vir onder meer ’n webtuiste wat geskep sou word vir ’n besigheid wat hulle saam sou begin.
Sy het later druk op hom begin plaas oor die geld wat hy moes terugbetaal, omdat sy ná verskeie dae steeds geen antwoorde oor die geld gekry het nie en ook geen bewyse gehad het oor waarvoor dit gebruik is nie.
Die verdediging voer aan dit was moontlik die rede waarom die getuie besluit het om die beweerde komplot by die polisie aan te meld. Die getuie het vroeër vertel dat hy en De Bruin ook planne gehad het om ’n mediese onderneming, genaamd God’s Farmcy, te begin.

Johan en Anelle de Bruin. Foto: Facebook
Simpson het dié verhouding en die finansiële transaksies tussen die twee tydens sy ondervraging uitgelig. Hy het aangevoer die getuie het besef De Bruin sou nie aanhou om hom finansieel te ondersteun nie en dat hy daarom ’n manier moes vind om die situasie tot sy voordeel te gebruik.
Die verdediging se lokval-weergawe het verder gefokus op die getuie se optrede nadat hy reeds na die polisie gegaan het.
Die getuie het omstreeks 18:00 op 9 Januarie ’n verklaring by die polisie afgelê waarin hy De Bruin se beweerde moordplan uitgewys het, volgens Simpson. Slegs minute later het hy egter vir De Bruin ’n boodskap gestuur waarin hy volgens die hof gesê het: “Anelle, die plan gaan voort, ons is amper op pad.”
Simpson het aangevoer dit maak min sin indien die getuie werklik reeds besluit het om die beweerde komplot aan die polisie bloot te lê. Die getuie kon aanvanklik nie verduidelik waarom hy dié boodskap gestuur het nie. Hy het later aan die hof gesê De Bruin het ná die R4 400-betaling glo weer druk op hom geplaas om die plan voort te sit.
Die verdediging voer egter aan die boodskap wys die getuie het De Bruin doelbewus onder die wanindruk gebring dat hy en ’n ander man op pad was om die moord uit te voer. Dit sluit aan by die verdediging se argument dat die getuie De Bruin moontlik in ’n lokval gelei het.
Simpson het ook verwys na ’n video wat die getuie van De Bruin gemaak het. Volgens die verdediging het die getuie haar in die opname nie bloot probeer keer nie, maar eerder aangemoedig en selfs in ’n stadium gesê dit is ’n “goeie plan”.
Hy het volgehou hy het uiteindelik besluit om die polisie te nader omdat hy geglo het De Bruin was ernstig oor haar man se dood.

Simpson het egter aangevoer die getuienis wys eerder die getuie het self ’n rol in die beweerde komplot gespeel en De Bruin aangemoedig om daarmee voort te gaan.
Die staat se sleutelgetuie sal na verwagting tussen 30 November en 2 Desember verder deur die verdediging ondervra word.
Die getuie se naam mag ingevolge ’n nuwe hofbevel nie in die media gepubliseer word nie, nadat hy aangevoer het vorige berigte waarin sy naam verskyn het, het sy lewe “erg benadeel”.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 4871427.

