On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
Show Background
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

Ses mans aangekeer vir besit van vermoedelik gesteelde luukse voertuie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 07:16 Sun, 18 Oct 2026

Ses mans aangekeer vir besit van vermoedelik gesteelde luukse voertuie | News Article
Die gesamentlike waarde van die ses voertuie is sowat R4 752 000. Foto ter illustrasie: iStock

Ses verdagtes sal na verwagting Maandag (19/10) in die hof op Colesberg verskyn nadat daar op ses luukse hibriedvoertuie ter waarde van byna R5 miljoen beslag gelê is.

Die mans is Vrydag (16/10) in hegtenis geneem nadat die polisie inligting ontvang het oor ses wit Jetour T2-hibriedvoertuie wat van Beaufort-Wes in die rigting van Colesberg onderweg was. Die polisie het glo vals dokumente in die voertuie gevind en vasgestel dat dit op ’n bedrieglike manier aangekoop is, sê brig. Mashay Gamieldien, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Die polisie se misdaadintelligensie-eenheid in die Wes-Kaap het die inligting met lede in Colesberg gedeel waarna die hoofwegpatrollie en die Hanover-polisie die voertuie onderskep het.”

Die ses bestuurders het glo beweer hulle neem die voertuie na ’n onbekende bestemming in Pretoria. Die gesamentlike waarde van die ses voertuie is sowat R4 752 000. Die polisie in Beaufort-Wes het in dieselfde ondersoek beslag gelê op nog soortgelyke voertuie. Dit bring die totaal op twaalf te staan. 


Die polisie het ook beslag gelê op tien selfone en dokumente wat vermoedelik vals is. Ses sake van die besit van vermoedelik gesteelde voertuie is by die Colesberg-polisie aanhangig gemaak.

Genl.maj. Luntu Ngubelanga, waarnemende provinsiale polisiekommissaris in die Noord-Kaap, het die betrokke lede vir hul vinnige optrede en samewerking geloof. Hy sê die operasie beklemtoon hoe belangrik die deel van intelligensie en samewerking tussen provinsies is om misdaad te bekamp. Die ses verdagtes bly in aanhouding.

OFM Nuus het vroeër berig die jongste beskikbare voertuigmisdaadsyfers toon die Toyota Hilux, VW Polo Vivo en Ford Ranger is van die voertuie wat die meeste gesteel word. Ander modelle wat gereeld geteiken word, is die Toyota Corolla, Hyundai Grand i10 en Nissan NP200. Die voertuie word dikwels deur misdadigers geteiken weens die vraag na onderdele en hul herverkoopwaarde.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.