Central SA
‘Groot Kersfees Saamsing’ in Sand du Plessis ’n eerste vir Bloem─── SUSAN MARÉ 09:27 Mon, 19 Oct 2026
Die “Groot Kersfees Saamsing“ op 28 November in die Sand du Plessis-teater belowe om ’n musiekgebeurtenis te wees wat die hele gemeenskap saambring soos nog nooit tevore nie.
DuPreez Strauss, in samewerking met Pacofs en HL Music, nooi Vrystaters uit na die aand. Die sluitingsdatum vir deelname aan die massakoor was 18 Oktober.
Strauss sê in ’n mediaverklaring honderde stemme gaan saam opklink en een groot, onvergeetlike koor vorm op die ikoniese verhoog van dié teater.
Die massakoorsang is onder leiding van Strauss as regisseur en Anton Esterhuyse as musiekdirekteur.

DuPreez Strauss. Foto verskaf
Strauss is ’n bekroonde en bekende dirigent, komponis en regisseur. Hy is nie net nasionaal bekend nie, maar het ook internasionaal as veelsydige kunstenaar diep spore getrap.
Hy was mede-regisseur en orkesdirigent van die produksie The Lion King van Disney wat in agt lande opgevoer is.
Die ander produksies waarvoor hy bekend is, sluit in Droomland, ’n bekende, gewilde klavierkonsert met unieke interpretasie van bekende Disney-musiek.
Hy is ook bekend vir My vreemde vriende (op VIA, DStv-kanaal 147), as akteur in die sepies Scandal en Villa Rosa, vir die TV-program Skycave, en as visuele houtskoolkunstenaar.
Esterhuyse het ook geen bekendstelling nodig nie. Hy is ’n hoogs veelsydige en uitmuntende kunstenaar van Bloemfontein.
Hy is bekend as Suid-Afrikaanse musikant, komponis, begeleier, musiekdirekteur en aanbieder. Hy is ook ’n pianis, kerkorrelis, rockorkes-pianis, en ’n fluit- en panpypspeler.
Mense wat Die Groot Kersfees Saamsing/Christmas Singalong gaan meemaak, kan tradisionele Kersmusiek in Afrikaans en Engels verwag, begelei deur ’n orkes met soliste.
Kaartjies vir toeskouers open binnekort op Webtickets .

Anton Esterhuyse. Foto verskaf
Deelnemers aan die massakoor kon inskryf sonder om enige vorige koorervaring te hê. Geen oudisies is gehou nie.
Deelnemers moes registreer en sal per e-pos van die musiek en begeleidingsbane voorsien word.
“Jy hoef dus geen kenner van bladmusiek te wees om deel te neem nie,” sê Strauss. “Daar sal wel gesamentlike kooroefeninge wees op 26 en 27 November van 17:00 tot 21:00.”
Inskrywingsfooie vir deelname was R150 per persoon, vir volwassenes én kinders van enige ouderdom.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.
