Central SA
Radiasie-onkoloog se satellietpraktyk op Bethlehem aanwins vir die streek─── SUSAN MARÉ 08:51 Fri, 23 Oct 2026
Die uitbreiding van ’n spesialis in kliniese radiasie-onkologie (kankerspesialis) van Bloemfontein se dienste na Bethlehem is ’n groot aanwins vir pasiënte in die dorp en omliggende omgewing.
Dit beteken, onder meer, dat kankerpasiënte op Bethlehem en omliggende dorpe nie meer die ver afstand na Bloemfontein hoef af te lê vir chemoterapie nie. Dr. Eduard Gräbe praktiseer tans vanuit Mediclinic Bloemfontein.
Hy bied nou ook gekombineerde sorg en konsultasies aan vir pasiënte in die Bethlehem-streek. Dit is in samewerking met Vrystaat Onkologie asook Loots Onkologie.
Sy mediese fokus is gerig op die bestuur en behandeling van kanker met behulp van gevorderde stralingsterapie-tegnieke. Hy fokus veral op individuele behandelingsplanne wat volgens elke pasiënt se unieke behoeftes opgestel word.

Die verpleegsusters Amanda Grové, Lena Mans en Annie Hasell, Esthelle Ackerman van Pathcare, Chrismarie Meiring van Mediclinic Hoogland, en Suzanne Lessing by die opening van die nuwe satellietpraktyk. Foto: Susan Maré
Hy is ook daarop toegespits om die beste moontlike uitkomste te verseker, onder meer deur multidissiplinêre samewerking met ander mediese kundiges soos chirurge en radioloë.
Sy strewe is deurlopende deernisvolle pasiëntesorg en emosionele en fisieke ondersteuning regdeurmet elkeen se kankerbehandelingspad.
By die opening van sy nuwe satellietpraktyk in De Leeuwstraat, Hospitaalheuwel, in Bethlehem het Gräbe gesê die belangrikste redes vir sy besluit om na Bethlehem uit te brei is om “sorg nader aan die huis” te bring. “Kankerpasiënte in en om Bethlehem moes tot nou moeitevol die ver afstand na Bloemfontein aflê vir roetine-behandelings.
“Deur in Bethlehem te praktiseer is dit moontlik om chemoterapiestatusse, hormoonterapie, geteikende terapie en deurlopende opvolgkonsultasie plaaslik te bestuur.”
Gräbe het ’n vennootskap met gevestigde onkologie-netwerke. Sy uitbreiding geskied in noue samewerking met onkologie-groepe in die Vrystaat soos Loots Onkologie en Cachet-Nel wat reeds ’n model gevestig het om spesialissorg te versprei.
Deel van hierdie spilpunte is Bloemfontein, Welkom, Kroonstad en Bethlehem.
Gräbe sê gespesialiseerde, hoë-energieradiasie (bestraling) vind steeds in die Bloemfontein-sentrum plaas weens die massiewe infrastuktuur wat daarvoor nodig is. Die res van die pasiënt se sorgpad kan veilig en gerieflik binne Bethlehem gekoördineer word.

Ook by die opening van die praktyk was dr. Eduard Gräbe se ouers, Minnie en dr. Chris, ortopediese chirurg van Pretoria, die oftalmoloë drs.Christiaan en Almer Engelbrecht (broers), en Francois en Cornelia Botes. Laasgenoemde vier is van Bethlehem. Foto: Susan Maré
“Ek is opgewonde en sien daarna uit om met Hoogland MediClinic en al die medici daar saam te werk in belang van my pasiënte.”
Gräbe het in 2026 het sy Meestersgraad in Geneeskunde (M.Med.) in Kliniese en Radiasie-onkologie aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Sy MB.Ch.B.-graad in Geneeskunde het hy in 2018 aan die Universiteit van Pretoria verwerf. In 2025 is hy toegelaat as ’n genoot van die Kollege van Stralingsonkoloë van die Kolleges vir Geneeskunde van Suid-Afrika.
Gräbe is met Melissa getroud, ook ’n mediese dokter, en die egpaar het ’n dogtertjie, Emma.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.
