On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
Show Background
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

Voormalige skoolklerk van Vanderbijlpark kry tronkstraf ná diefstal van miljoene

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:14 Sun, 29 Nov 2026

Voormalige skoolklerk van Vanderbijlpark kry tronkstraf ná diefstal van miljoene | News Article
Aletta (Alta) van Eck. Foto Facebook

’n Voormalige administratiewe werknemer van Vanderbijlpark is tronkstraf opgelê nadat sy oor sewe jaar meer as R15,6 miljoen by ’n laerskool gesteel het.

Aletta (Alta) van Eck (76) is Vrydag (27/11) in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria tot 12 jaar tronkstraf gevonnis. “Vier jaar van die vonnis is vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat sy nie in dié tydperk weer aan diefstal of bedrog skuldig bevind word nie,” sê Lumka Mahanjana, Gautengse NVG-woordvoerder.

Sy is skuldig bevind aan die diefstal van R15 605 218,26 by die Pinedene Primary School waar sy vir 41 jaar gewerk het. Die diefstal is van 2013 tot 2020 gepleeg. Sy het die skool se betalingsproses misbruik deur fakture te verander sodat die geld in haar man se bankrekening inbetaal word. 

Landdros Ignatius du Preez het in sy uitspraak bevind die diefstal was nie ’n eenmalige impulsiewe daad nie, maar ’n berekende en herhaalde misbruik van die vertrouensposisie wat sy by die skool beklee het.

'Die beweerde goeie motief verander nie die erns van die misdaad'

“Die hof het ook Van Eck se verduideliking verwerp dat sy die geld gebruik het om mense in nood te help. Haar dogter het tydens die verrigtinge getuig dat sy haar ma as ’n soort Robin Hood beskou het omdat sy onder meer vir mense se operasies en ander uitgawes betaal het,” sê Mahanjana.

Hy het egter bevind dat ’n beweerde goeie motief nie die erns van die misdaad verander nie. Hy het ook daarop gewys dat daar steeds nie ’n volledige verduideliking is van wat met die miljoene rand gebeur het nie.

Volgens die getuienis het die diefstal ernstige finansiële gevolge vir die skool gehad. Die geldtekorte het instandhouding, werknemers se bonusse en die betaling van salarisse geraak. Die skool moes ook met fondsinsamelingsprojekte begin om finansieel kop bo water te hou.

Slagoffers

Hy sê die skool se leerlinge, onderwysers en ondersteuningspersoneel is die ware slagoffers van die misdaad. Hoewel Van Eck se ouderdom, gesondheid en persoonlike omstandighede tydens vonnisoplegging in ag geneem is regverdig dit nie die erns van die misdaad of sluit dit tronkstraf uit nie.

Daar is getuig dat sy aan hoë bloeddruk, osteoporose en depressie ly en dat haar man weens verskeie gesondheidsprobleme van haar versorging afhanklik is.

Die landdros het egter bevind dat alternatiewe reëlings vir haar man se versorging getref kan word en dat korrektiewe toesig of ’n boete nie gepaste vonnisse sou wees nie, Sy het glo nie ware berou getoon nie en haar skulderkenning is eerder die gevolg van die sterk getuienis teen haar as ’n opregte gewetensbesluit.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.