Entertainment
’n (Vrystaatse) fees van pret en verbeelding vir kinders─── 13:06 Thu, 12 Jun 2025

As jy al ooit by ’n kunstefees ingestap het en gedink het: “Hier is niks vir die kinders om te doen nie” dan het jy nog nie die Vrystaat Kunstefees beleef nie.
Van die oomblik wat julle by die feeshekke inry, is die moontlikhede vir die kleinspan en ouer kinders eindeloos.
’n Wêreld van pret en kreatiwiteit wag, asook die geleentheid om die jeug lief vir hulle taal en kunste te maak.
Vanjaar bied die fees iets besonders vir die jongspan:
Hiep Hiep Hoera! Hans Haas Verjaar!
Hierdie soms verspotte en baie geliefde Hans Haas kuier reeds tien jaar lank by die Kunstefees. En vandag is die gróót dag, want hy verjaar.
Die dieremaats op Haaslaagte is besig om ’n verrassingspartytjie te reël, maar Hans mag van niks uitvind nie.
Vetplant-feetjies deur Antjie Krog. Foto: Vrystaat Kunstefees
Hans sê hy kan nie wag om by die fees te kom kuier nie. “Die kinders by die Vrystaat Kunstefees is baie slim en oulik.”
Kinderstorie-Kuns:
Die Vrystaat Kunstefees en Lapa-Uitgewers bied gratis opwindende kunsvlytprojekte vir die jongspan aan. Saam met vrolike voorlesings word daar geknip-en-plak en karakters geskep wat gebaseer is op van Lapa-Uitgewers se gewildste jeugboeke.
Om kreatief te wees en boonop te luister, is enige kind (en ouers) se droom.
Mebala-bala werksessies:
Hierdie gratis projekte gee aan kinders die geleentheid om hul natuurlike liefde vir kuns te kom wys. Van klippe verf tot blomme maak is deel van die program.
Van klippe verf tot blomme maak is deel van die program. Foto: Vrystaat Kunstefees
Sci-Ed Jeugaktiwiteite:
Kom geniet opwindende demonstrasies van wetenskap in aksie! Die prettige aktiwiteite en eksperimente bied opvoedkundige vermaak wat nuuskierigheid en belangstelling by oud en jonk sal aanwakker.
Kinders kan hier hulle eie badbomme, valskerms of malvalekkers kom maak.
Prettige aktiwiteite en eksperimente bied opvoedkundige vermaak op die fees. Foto: Vrystaat Kunstefees
Michael Garbett, feesdirekteur, sien die fees as ’n geleentheid wat ook kinders moet insluit, met die doel om van jongs af ’n liefde vir kuns en kultuur aan te moedig.
“Ons programinhoud laat die hele gesin welkom voel. Dit skep ’n veilige, kreatiewe ruimte waarin kinders kan leer en vermaak word, terwyl dit terselfdertyd aan ouers die kans gee om die fees met gemoedsrus te geniet.
“Só word nie net die huidige gehore bedien nie, maar ook die volgende generasie kultuurliefhebbers en kunstenaars geïnspireer.”
OFM cg