Entertainment
Dit is tyd! Die Vrystaat Kunstefees skop binnekort af met sterbelaaide program─── 14:23 Thu, 10 Jul 2025

Die wag is amper verby! Oor minder as vyf dae begin een van die jaar se mees opwindende kulturele hoogtepunte: Die Vrystaat Kunstefees in die hartjie van die land.
Dié jaar bring ’n program wat sterk staan in sy viering van Suid-Afrikaanse talent, met ’n verskeidenheid wat wissel van ikoniese musiek tot sielsvolle teaterproduksies.
Karen Zoid – ’n Nasionale ikoon op die verhoog
As daar een naam is wat Suid-Afrikaners regoor die land in vervoering bring, is dit Karen Zoid. Bekroon, geliefd en bekend vir haar eerlike lirieke en elektriese teenwoordigheid op die verhoog, is Zoid terug met ’n spesiale vertoning.
Haar optrede is nie net ’n konsert nie – dit is ’n gebeurtenis, ’n viering van Afrikaanse rock en die stem van ’n generasie.
Karen Zoid. Bekroon, geliefd en bekend. Foto: Vrystaat Kunstefees
Zoid sê sy was heeltemal te lanklaas in Bloemfontein en gaan dié een laat tel. “Ek het ’n splinternuwe song wat ek gaan sing vir die eerste keer! Ons kom met alles na die Fees, van elektries tot akoestiese kitare.”
Sy is lief vir Bloemfontein en sê vir die een of ander rede kom die mees kreatiewe mense vanaf plekke waar die landskap ’n bietjie harder is. “Koue weer is teaterweer.”
Sy het nog altyd ’n goeie tyd in Bloemfontein gehad en sê die fees bly groei omdat die fokus reg is.
Drie Onvergeetlike Teaterproduksies
Die teaterprogram bied vanjaar ‘n klomp vlagskipproduksies wat elk hul eie unieke aanslag het, maar almal ’n diepe indruk laat. Hier is ’n paar:
- “Seun”
’n Intieme en aangrypende eenmanstuk wat handel oor verlies, liefde en die soeke na identiteit. Hierdie stuk laat jou nie net nadink nie, dit laat jou voel. Met briljante spel en minimalisme as krag, is Seun ’n meesterklas in emosionele teater en ’n aangrypende uitbeelding van die verhouding tussen pa en seun. Gegrond op die memoire van Dana Snyman. - “Speenvark”
In ietwat van ’n poging tot ’n eenmanstuk, of ’n worstelende gedig, bied die stuk ’n skerpsinnige blik oor verskeie dinge. Dit plaas genadelose humor onder ’n vergrootglas en kyk na sosiale maskers en magsdinamiek. Wat beteken dit werklik om ’n Suid-Afrikaner te wees? Hierdie stuk is gewaagd, onvoorspelbaar en uiters vermaaklik, met Tinarie Van Wyk-Loots. - “Speelgoed van Glas”
Hierdie visueel betowerende produksie kombineer fyn spel, sterk simboliek en ’n dromerige verhoogtaal om ’n storie van verlange en verganklikheid te vertel. ’n Poëtiese en brose toneelstuk wat diep onder die vel kruip, met Anna-Mart van der Merwe, Carla Smith, Ben Albertyn, Mark Elderkin.
Volgens Michael Garbett, feesdirekteur, staan hulle op die drumpel van iets besonders.
“Die Kunstefees 2025 is meer as net ’n program, dit is ’n viering van stories, stemme en kreatiewe dapperheid. Ons vlagskipproduksies vanjaar is doelbewus gekies om te verras, ontroer en laat dink.
“Ons nooi almal uit om deel van hierdie viering te wees. Die kunste leef, die stories wag, en die verhoog is gereed.”
OFM Nuus cg