On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Entertainment

Afrikaans 100 met klank in Clarens gevier

───   09:40 Thu, 02 Oct 2025

Afrikaans 100 met klank in Clarens gevier | News Article
Kate Rok sing van haar Afrikaanse hartsliedjies. Foto verskaf

’n Besonderse viering van Afrikaans se 100 jaar as amptelike taal vind Saterdag (4/10) in Clarens plaas.

Die viering word van 10:00 tot 12:00 in die NG gemeente Clarens se Krugersaal aangebied. Die program sluit in Afrikaanse musiek deur Kate Rok en Margie Koster, sê George van der Merwe, projekbestuurder van Clarens se erfenisvereniging.

Die sprekers wat optree is Johan Blaauw, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut, prof. Marlies Taljard, inhoudsbestuurder van die Afrikaanse digkunswebtuiste Versindaba op RSG, en dr. Coetzee Bester, wat sy doktorsgraad verwerf het in die onderrig van inligtingsetiek in Afrika. 

Kate Rok is ’n liedjieskrywer en sanger van Clarens. Haar tweede album is ’n ode aan Afrikaans. 


Die nuwe album, WEEF, word in November uitgereik. Sy sing Saterdag liedjies waarmee sy grootgeword het, wat deel vorm van haar lewensreis en waaruit sy van jongs af inspirasie put. 

Koster, ’n geliefde inwoner van Clarens, het opera in Europa en aan die Technikon Pretoria studeer. Nadat sy haar studie in die uitvoerende voltooi het, het sy in talle skouburge en stadsale landwyd opgetree. 

Sy het onlangs teruggekeer na die verhoog om haar liefde vir musiek uit te leef. 


Van der Merwe sê mense moenie dié besonderse geleentheid misloop nie. Die program, deur die erfenisvereniging, word in samewerking met die plaaslike NG gemeente aangebied. Toegang is ’n donasie van R50.

Sedert Afrikaans 100 jaar gelede ’n amptelike taal in die Unie van Suid-Afrika geword het, het die taal sy vlerke wyd gesprei. Vandag is dit ’n gerespekteerde en volwaardige akademiese, literêre, regs-, wetenskap- en kultuurtaal.

Meer as sewe miljoen mense in Suid-Afrika praat Afrikaans. Naas Zoeloe en Xhosa is dit die mees gebruikte taal in die land.

OFM Nuus/Susan Maré mvh 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.