On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan OFM
Show Background
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

Entertainment

Bloemhof ‘kwêla’ op hoë golf as wendorp

───   SUSAN MARÉ 14:50 Fri, 14 Nov 2025

Bloemhof ‘kwêla’ op hoë golf as wendorp | News Article
Bloemhof se gemeenskap blom in samewerking om hul dorp mooi te maak. Foto verskaf

Omliggende dorpe kyk met nuwe bewondering na Bloemhof as ’n baken van hoop sedert dié Noordwes-dorp die kykNET-program Kwêla se Dorp van die Jaar gekroon is.

Verskeie projekte is begin om vir die dorp ’n kleurryker baadjie aan te trek. Danksy die energieke samewerking van die breë gemeenskap is dit deesdae ’n plesier om in sy hoofstraat te ry.

Voor inwoners gehelp het om Bloemhof aantrekliker te maak, sou min mense kon voorsien dat hierdie valerige dorp op die N12 vroeër vanjaar as wenner sou uitklim, veral teen prentjiemooi dorpe aan die kus en selfs groter dorpe soos Potchefstroom.

Nou pronk die breedste hoofstraat in Suid-Afrika met middelmanne wat vol bome, vetplante, kleurryke muurskilderye, geverfde asblikke en selfs openbare urinale soos dié in Nederland. En ál die straatligte brand.

Die hoofstraat het selfs “middelmanmeesters”, wat elkeen hand opgesteek het om na sy of haar middelman om te sien. Die meesters kweek nie net hul tuine nie; hulle doel is om trots onder die inwoners te kweek.

Makietieterrein in Bloemhof. Foto verskaf

Op 1 November het sowat 3 000 mense hierheen gestroom vir ’n makietie om Bloemhof se oorwinning te vier, vertel Daleen Steyn, projekbestuurder. Sy noem dié opskop “’n getuienis van dié dorp se durf-en-daadkrag”.

Die Rippelspan het leiding geneem met die “dorp van die jaar”-projek, maar inwoners, boere, plaaslike talent, leerders en selfs ’n graffiti-kunstenaar het nader gestaan en hul hulp of vaardighede aangebied, sê Steyn. “Die Rippelspan het Bloemhof se vuurtjie van trots aangesteek,” sê sy. 

’n Kleurvolle muur in Bloemhofstraat. Foto verskaf

“Die ingange van die dorp vertel daarvan, en die twee mure simboliseer ons oorwinning as wendorp. Bloemhof se mense het met verskeie projekte wat ons aangepak het, gewys hulle wil ‘eienaarskap neem’ van die dorp.”

Die hoofstraatprojek word bestuur deur René Wentzel, oudkleuterskoolhoof en bekende in die distrik. Sy sê dat die mooi maak van die hoofstraat inwoners aangemoedig het om ook hul eie woonstrate te begin opknap en verfraai. 

Nadat die hoofstraat mooi gemaak is, het dit mense aangespoor om ook die systrate te verfraai. Foto verskaf

Die R1 miljoen-prysgeld wat Bloemhof as wendorp ontvang het, is in verskeie projekte gebruik. Buiten die opgeknapte hoofstraat het Bloemhof nou ook ’n wandelpark waar mense veilig kan stap, draf, fietsry, piekniek hou en die natuurskoon geniet. 

Die paaie in die park is netjies geskraap en die nabygeleë kerkhof is is skoongemaak met die hulp van boere en kundiges wat weet hoe om bossies uit te roei. Bedankings stroom steeds in, ook uit die buiteland, van oudinwoners wat dankbaar is dat hul geliefdes se laaste rusplek mooi versorg is. 

Daleen vertel die makietie was ’n lewendige kulturele byeenkoms met baie energie, musiekkunstenaars en sowat 70 stalletjies. Die plaaslike hoërskool se matrieks van 1995 het ’n reünie gehou en bome by die skool geplant. 

Bloemhofwandelpark in wording. Foto verskaf

Tonne sakke vullis is al verwyder op plekke wat eens onooglik was. Met behulp van KI is aanvanklik ’n “voor en ná”-voorstelling gemaak van hoe Bloemhof kon lyk. 

Inwoners was dadelik entoesiasties en het begin saamwerk. 

Held van Bloemhof

Een persoon word selfs “die held van Bloemhof” genoem. Karin Botha het die plan beraam om ’n rommeltrollie met ’n deel van die wengeld te laat vervaardig. 

Die held word vir ’n jaar geborg om daagliks rommel in die hoofstraat op te tel. Daarná word die sakegemeenskap genader om die projek voort te sit.

Die Bloemhof-gemeenskap is dankbaar vir die werkskeppingsgeleenthede wat die projek bied. Foto verskaf

Daleen sê die groter gemeenskap van Bloemhof is dankbaar vir die werkskeppingsgeleenthede wat die projek bied.

“Die omliggende dorpe sien dit wat in Bloemhof gebeur as ’n ligpunt van hoop, en die Rippelspan is dankbaar dat die projek hulle die geleentheid gee om hoop na die gemeenskap te bring.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Susan Maré mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.