Entertainment
Biografie oor Clive Derby-Lewis werp nog lig op Chris Hani se sluipmoord─── SUSAN MARÉ 15:42 Wed, 08 Apr 2026
Ná 33 jaar het die stof en bespiegelings rondom die Chris Hani-sluipmoord in April 1993 nog lank nie gaan lê nie.
Die aktrise en skrywer Elma Potgieter (80) se jongste boek, ’n biografie oor Clive Derby-Lewis, bied vrae én antwoorde. Doolhof van Leuens is pas gepubliseer deur Mar-Leo Uitgewers. Daarin val die kollig op Clive Derby-Lewis, een van die aangeklaagdes.
Hy is saam met Janusz Walus ter dood veroordeel vir die sluipmoord op Hani en eindelik lewenslange tronkstraf opgelê, nadat die doodstraf afgeskaf is.
Derby-Lewis was ’n Afrikaner van Duitse en Skotse afkoms. Hy het 21 jaar tronkstraf uitgedien en het op 3 November 2016 in die Eugène Marais-hospitaal in Pretoria aan gevorderde longkanker gesterf.
Potgieter kon danksy die samewerking van Derby-Lewis se vrou, Gaye, 29 onderhoude met hom in die tronk voer en sewe met Janusz Walus.
In Doolhof van Leuens se voorwoord skryf Karel Combrinck, vryskutjoernalis, rubriekskrywer en kommentator, die huidige bewind in Suid-Afrika sou verkies het dat die wêreld so min moontlik weet omtrent die geskiedenis van Derby-Lewis en Walus.
“Die behandeling van Derby-Lewis en Walus was so skreiend en onbillik dat hoe minder daaroor gesê word, hoe beter. Hulle het jare lank in die gevangenis vergaan, vergeet en verlaat deur bykans almal behalwe naasbestaandes en ’n klompie simpatiseerders.
“Al twee het die beker van lyding en vernedering deur die ANC-regime tot die droesem gedrink.”
In haar boek maak Potgieter ’n saak daarvoor uit dat daar moontlik iets heroïes was omtrent die handeling van die twee betrokkenes. Sy vertel ’n aangrypende aspek van die biografie was vir haar om te ontdek hoe ’n goeie politikus en mens Derby-Lewis was.
Oral waar hy was, van die Nasionale Party tot die Konserwatiewe Party, was hy iemand wat mense ten goede beïnvloed het. As burgemeester van Bedfordview (oos van Johannesburg) het hy groot verskille in die gemeenskap aangebring.

Elma Potgieter, skrywer van Doolhof van Leuens. Foto verskaf
Hy het die kiesafdeling Edenvale in die Transvaalse Provinsiale Raad verteenwoordig. Selfs in die gevangenis het hy veel vermag, soos om die tronk se biblioteek te help uitbrei en verbeter en om vir ’n gimnasium te beding en dit te help verwesenlik.
“Hy was vir baie mense om hom ’n vaderfiguur,” sê Potgieter.
Sy het diepte-navorsing gedoen soos om die briefwisseling deur te werk tussen die Nederlandse en Britse regering voor die Vrede van Vereeniging, wat die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) beëindig het.

Gaye Derby-Lewis. Foto verskaf
“Ek het ook die Vredesverslag, die hofverslag van Derby-Lewis en Walus en die Waarheids-en-versoeningskommissie se verslag deurgewerk. Dit was ’n hele paar jaar se intensiewe navorsing.”
Volgens die huidige bewindhebbers in SA het Clive en Janusz se aanslag in 1993 teen Hani begin, maar Combrinck skryf in die voorwoord die geskiedenis het eeue gelede begin met die koms van die eerste Nederlandse nedersetters na die Kaap, die Duitse boere as Vryburgers in 1657 en die Franse Hugenote vanaf 1685.
Dit het begin met die uittog van die Voortrekkers omstreeks 1838 om te ontsnap aan Britse oorheersing. Dit het in 1899 begin met ’n imperiale mag se grypsug, met die goudmyne en diamantvelde, die derduisende sterftes in die ABO, die ballingskap van Boerekrygers op St Helena en elders, die moord op die eerste minister, dr. H.F. Verwoerd, en met staatspresident F.W. de Klerk se “eerlose oorgawe” aan ’n Sowjet-geïnspireerde regime.

Voorblad van Doolhof van Leuens. Foto verskaf
Van die interessante aspekte wat Potgieter in die biografie aanraak, is waarvandaan Hani gekom het voor sy sluipmoord en hoe hy die noodlottige aand by sy huis se oprit ingedraai het sonder ’n enkele lyfwag.
“Hy was hoof van die SAKP en Umkhonto we Sizwe en het altyd bykans twaalf lyfwagte om hom gehad. Ek skryf ook oor die moontlikheid van jaloesie op hom in ANC-geledere.”
’n Gerekende uitgewer het Potgieter in 2010 gevra en ’n kontrak aangebied om ’n biografie oor Derby-Lewis te skryf. Ná vier jaar het die uitgewer kop uitgetrek.

Elma Potgieter lewer op 29 Maart 2026 ‘n huldeblyk aan die digter Engène Marais. Foto verskaf
Sy het egter met haar navorsing voortgegaan en was gelukkig om ’n uitgewer te vind wat wel die boek gepubliseer het.
“Soos in die voorwoord geskryf staan, hoop ek enigiemand met ’n belangstelling in die moderne Suid-Afrikaanse geskiedenis sal Doolhof van Leuens interessant en onontbeerlik vind,” sê Potgieter.
“Ek dink dis tyd dat die wêreld weet wat regtig met Derby-Lewis en Walus gebeur het, en waarom.”
Doolhof van Leuens is in A4-formaat en bestaan uit 450 bladsye. Dit kan per e-pos teen R600 (koerier uitgesluit) bestel word.
Potgieter is ’n veelsydige kunstenaar wat bekend en gewild is aktrise, aanbieder, skrywer, taalpraktisyn, vertaler, woordkunstenaar en die skrywer van meer as 50 Afrikaanse kortverhale. Sy het in talryke produksies, TV-rolprente en -reekse gespeel en is op 80 jaar steeds bedrywig om haar gawes en talente uit te leef.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

