Entertainment
Jannie en vriende sing ten bate van Jean Webber-huis─── SUSAN MARÉ 11:06 Wed, 20 May 2026
Op 3 Junie val die kollig op die Jean Webber-huis in Bloemfontein wanneer Jannie du Toit en verskeie plaaslike kunstenaars ’n spesiale konsert aanbied ten bate van dié unieke instansie.
Die konsert vind om 18:00 in die NG gemeente Pellissier se kerkgebou plaas. Dit is deel van die Gigs for Good/Arts & Culture Inclusion-projek, met Gertjan Holtzhausen as koördineerder.
Wat die aand besonders maak, is die deelname van plaaslike én bekende kunstenaars. Ella Kotze, Riaan Naudé, Chanie Jonker, Anton Esterhuyse, Martinette Spoelstra en die Eduplus Senior Koor sal saam met Du Toit optree.
Du Toit, wat al sedert 1971 aan die voorpunt van Afrikaanse musiek staan, is ’n geliefde en bekroonde liedjieskrywer en sanger. Hy het ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van gehalte Afrikaanse musiek en is veral bekend vir sy bydraes tot Afrikaanse en Nederlandse Kleinkuns.
Gebore in 1951 in Heidelberg (Gauteng), het hy reeds as student begin om musiek en liriek in balans te bring en so ’n unieke styl gevestig.
Sy liedere soos ’n Liedjie vir jou, Somerkersfees, Op my ou Ramkietjie en Afdraaipad is oor dekades heen gunstelinge wat in Afrikaanse huise geniet word en deur kore gesing word.

Inwoners van die Jean Webber-huis. Foto verskaf
Die Jean Webber-huis in Parkweg, Willows, is sedert 1976 ’n veilige en versorgde tuiste vir mense met ernstige fisieke of psigiese gestremdhede. Dit word bestuur deur die Vereniging vir Persone met Gestremdhede (VPG) in die Vrystaat, en is vernoem na Jean Webber, ’n baanbreker in die versorging van mense met gestremdhede in die streek.
Die huis bied sorg aan kwadrupleë, beroerte-oorlewendes en mense met serebrale verlamming of veelvuldige sklerose – van alle bevolkingsgroepe. 
Alhoewel die huis al verskeie finansiële krisisse moes trotseer, kon dit danksy gemeenskaps- en besigheidsondersteuning tot dusver voortbestaan.
Vir navrae kan Jackie Malan van die VPG in die Vrystaat gekontak word by 082 490 6796. Kaartjies vir die konsert is beskikbaar by Tixsa.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
