On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Entertainment

Frank en Margit bring skaterlag na die Vrystaat Kunstefees

───   11:04 Fri, 22 May 2026

Frank en Margit bring skaterlag na die Vrystaat Kunstefees | News Article
Margit Meyer-Rödenbeck en Frank Opperman. Foto: Vrystaat Kunstefees

Komedie is veel meer as net vermaak. Dit is ontvlugting, genesing en ’n manier waarop Suid-Afrikaners mekaar in moeilike tye vind.

Twee van Suid-Afrika se bekendste akteurs, Frank Opperman en Margit Meyer-Rödenbeck, gaan in die toneelstuk Eerste vir Alles op die Vrystaat Kunstefees te sien wees. Hulle gesels hieroor en waarom komedie so diep aanklank vind by plaaslike gehore.

Opperman sê gehore se besonderse liefde vir komedie is ’n manier van ontvlugting. “Dit gaan so rof by ons hier. Maar Suid-Afrikaners hou deur die bank daarvan om te kan lag. Daar is soveel donker dinge wat rondom ons gebeur.”

Dit is reeds dekades sedert Frank TV-gehore laat skater en vasgenael laat sit het as Ouboet in Orkney Snork Nie. In hierdie rol het hy baie waardevolle lesse oor komedie geleer.


“Komedie is ’n ernstige ding. Dit werk beter as jy dit ernstig opneem en nie snaaks probeer wees nie.” Dít het hy by Willie Esterhuizen, skrywer van die trefferreeks, geleer.

Meyer-Rödenbeck stem saam. Lag is die beste medisyne. “Biologies skei jou liggaam endorfiene af as jy lag. Dit is hormone wat ’n mens goed laat voel. Maar dit gaan oor selfs méér as dit. ’n Gehoor wat saam lag, ervaar dieselfde emosie en vorm ’n band. Jy giggel nie op jou eie nie, jy behoort aan ander wat dieselfde humorsin het.”

Sy glo komedie help mense om die swaar van die lewe beter te verwerk. “Sodra ons vir swaarkry soos die ekonomie, politiek en ander uitdagings kan lag, begin ons dit verwerk.”

‘Eerste vir Alles’ is die eerste verhoogproduksie wat Margit Meyer-Rödenbeck en Frank Opperman saam doen. Foto: Gys Loubser

“Die psige sien dit nie meer nét negatief nie. Lag gee perspektief. Vir daardie uur of twee word jy weggevoer, jy kry lekker en sien weer kans om aan te gaan.”

Die produksie Eerste vir Alles bring Opperman en Meyer-Rödenbeck saam op die verhoog. Al ken hulle mekaar al jare is dit die eerste keer wat hulle ’n verhoogproduksie saam doen; iets waaroor hulle al jare lank droom.

Die stuk handel oor Adam en Eva wat die eerstes was om uit te vind hoe alles werk. “Hulle was eerste hier. Hulle was die eerste om uit te vind hoe ’n mens babas maak,” lag Opperman. “Dit is ’n lekker sterk komedie oor die liefde en kinders.”

Volkbesit

Vir Meyer-Rödenbeck was die ervaring om saam met Opperman te werk besonder spesiaal. “Om saam met Frank te werk, is ’n fees. Hy is hardwerkend, passievol, kreatief en gee sy alles. Frank is volksbesit. Hy het altyd tyd vir almal, of dit nou vir ’n foto of ’n geselsie is.

“Ek voel veilig saam met Frank op die verhoog. Daar is baie meer in hierdie Ouboet as wat mense dink.” Sy sê die hele span is wonderlik, met Wessel Pretorius as skrywer en regisseur en Wicus Louw as verhoogbestuurder.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.