On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Entertainment

Kragtige nuwe teaterwerk sal Vrystaatse feesgangers laat nadink

───   SUSAN MARÉ 13:34 Mon, 06 Jul 2026

Kragtige nuwe teaterwerk sal Vrystaatse feesgangers laat nadink | News Article
Om te Val vertel die verhaal van Miriam wat met insluitingsindroom leef. Foto verskaf

“Dit het my vir ewig getraumatiseer – op die beste moontlike manier.”

Só het een van die eerste gehoorlede gereageer ná die voorskouvertoning van Om te Val,  ’n nuwe Afrikaanse teaterproduksie wat reeds vroeg lof ontvang vir sy emosionele trefkrag en vernuwende teaterstyl.

Om te Val vertel die verhaal van Miriam, ’n vrou wat ná ’n byna noodlottige verdrinking met Insluitingsindroom leef. Hoewel sy volkome bewus is van die wêreld om haar, kan sy nie praat of haar liggaam beheer nie.

Vanuit hierdie buitengewone uitgangspunt ondersoek die produksie temas soos identiteit, herinnering, veerkragtigheid en die diep menslike behoefte om raakgesien te word.


Tanja Franzsen, die skrywer en hoofrolspeler van Om te Val is, ’n professionele aktrise van Greyton in die Wes-Kaap wat die rol van Sylvia Kasselman in die kykNET-telenovela Diepe Waters vertolk. Sy is ook bekend as stemkunstenaar, musikant en skrywer, vir haar rolle in Nuusmakers en die riller Bloodhound.

Sy het aanvanklik joernalistiek gestudeer waarna sy na Sydney verhuis het. In 2016 is sy genooi om by die New York Film Academy in Los Angeles op te tree. As stemkunstenaar doen sy voorlesings vir nasionale advertensies, wetenskaplike joernale en voorlesings vir oudioboeke.

Fisieke teaterwerk

Om te val se regisseur en choreograaf is Martin van Heerden. Die vertoning is ’n gewaagde keuse om juis ’n hoogs fisieke teaterwerk te wees. 

Terwyl Miriam se liggaam in die werklikheid stil is, skep die fisieke taal van die produksie ’n landskap waarin haar innerlike wêreld, emosies en herinneringe vrylik kan beweeg.

Tanja Franzsen is die skrywer en hoofrolspeler van Om te Val. Foto verskaf

Jacques Adriaanse, akteur en teatermaker, beskryf die produksie as “ ’n meesterklas in beweging, spel en broosheid – meesterlik”. Hy sê Tanja Franzsen neem jou volledig op ’n reis na die binnewêreld van Insluitingsindroom, maar ook op ’n reis van selfondersoek soos min.

Die eerste gehoor het hierdie sentiment gedeel: “Dit was asof Flowers for Algernon en Severance ’n teaterkind gehad het. 

Menslik en onvergeetlik

Beeldskoon, ontstellend. ’n Ervaring wat jou laat wegstap met ’n dankbaarheid vir die dinge wat mens só maklik as vanselfsprekend aanvaar.”

Nog ’n gehoorlid het die produksie beskryf as “ ’n absolute juweel wat wag om ontdek te word. Dankie dat jy iets geskep het wat so ontstellend, so menslik en so onvergeetlik is.”

Om te Val is nie bloot ’n verhaal oor verlies nie. Dit is ’n viering van die mens se vermoë om betekenis, hoop en verbintenis te vind, selfs in die mees ondenkbare omstandighede.

Dit is die soort teater wat nie al die antwoorde gee nie, maar vrae laat wat nog lank ná die gordyn sak, saam met jou huis toe reis.

Om te val kan Donderdag (9/7) om 18:00 en Vrydag (10/7) om 17:30 in die Kunstetrust Repteater gesien word. Kaartjies is beskikibaar op Webtickets.

OFM Nuus/Susan Maré sm/dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.