Entertainment
Skrywer en sanger bring Karoostories Vrystaat toe─── 11:23 Wed, 15 Jul 2026
“Jou Vrystaat-wortels ontgroei jy nooit. Die bloed bly oranje, al gaan jy weg. Bloemfontein bly my hartshuis.”
So gesels die Afrikaanse sanger, liedjieskrywer en pianis Coenie de Villiers oor sy gehegtheid aan die Vrystaat. Juis daarom is dit vir hom en die bekroonde misdaadskrywer Deon Meyer ’n goeie vooruitsig om ’n gestroopte en intieme weergawe van hul Karoo-Suite-produksies, Karoo-Keur: Die beste van die Karoo-Suites, na die verhoog in Bloemfontein te bring.
Ook Meyer se Vrystaat-spore lê diep. “Ek het in Desember 1980 by Die Volksblad begin werk as verslaggewer. Om ’n koerantman te wees, is die wonderlikste manier om ’n stad te leer ken.
“Dit het nie baie lank geduur om baie lief te word vir Bloemfontein nie.” Al is hy lankal weg uit die stad, beskou Meyer homself steeds as ’n ware Vrystater.
Diepgewortel lê egter ook De Villiers sowel as Meyer se liefde vir die Karoo; vandaar die Karoo-Suite-produksies. “My familie was skaapboere; trouens, hulle is vandag steeds daar. Bossieveld het vir my geweldig baie betekenis” vertel De Villiers.

Deon Meyer en Coenie de Villiers, ’n duo in musiek en woord, ken mekaar reeds jare. Foto verskaf
Ook vir Meyer hou die Karoo ’n groot oopte en eerlikheid in. “Van kleins af was ek net bekoor deur die landskap. Ek het die Karoo ernstig leer ken toe ek begin motorfiets ry het en al die grondpaaie en obskure paadjies kon ondek.”
Meyer vertel ook van sy groot liefde vir die mense van die Karoo, wie se gasvryheid en goedheid geen perke ken nie.

Vir die aanbieding van hul nuutste produksie is Meyer, soos voorheen, weer die verteller en De Villiers skuif oudergewoonte agter die klavier in met die mooiste verhale en musiek, gekies uit die vorige twee produksies. “Daar wag selfs ’n verrassing of twee!” belowe hulle.
Vanwaar die gedagte vir hierdie gestroopte weergawe van Karoo-Suite? “Vir ons is hierdie produksie ’n ode aan die Karoo. Al die stories is waar.
“Dis moeilik om die oorspronklike produksies altyd op te voer. Dit bevat geweldig omvattende oudiovisuele komponente, ook ’n groot orkes is ter sprake, wat baie duur is. Met hierdie intiemer weergawe voel dit vir ons asof die mense by ons in ’n sitkamer sit en kuier.”
Vir De Villiers is die stories van die Karoomense onuitputlik. Vir hom en Meyer is dit ’n voorreg om hierdie skatkis van verhale, van ’n deel van ons land waar daar net twee seisoene bestaan, deur voorlesing en musiek met almal te kan deel. “Inderdaad net twee seisoene, óf vrek warm, óf vrek koud!” lag hy.
Karoo-Keur: Die beste van die Karoo-Suites is op 28 Julie om 19:30 in die Odeion op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat te sien.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

