On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Seëlversamelings in die soeklig op Sasolburg se streeksuitstalling

───   SUSAN MARÉ 13:15 Wed, 22 Jul 2026

Seëlversamelings in die soeklig op Sasolburg se streeksuitstalling | News Article
Koos de la Rey wys van sy versamelseëls. Foto verskaf

Posseëlversameling is allermins ’n uitgediende stokperdjie en geniet steeds belangstelling onder versamelaars, geskiedenisliefhebbers en beleggers.

Filatelieverenigings in onder meer Bloemfontein en Sasolburg bewys dat klein, gegomde papierstukkies met interessante afbeeldings steeds mense se verbeelding aangryp. Dié sogenaamde miniatuurensiklopedieë van wêreldgeskiedenis sal volgende week op die Sasolburgse Filatelievereniging se streeksuitstalling in die plaaslike openbare biblioteek in die soeklig wees.

Filatelie is die versameling en bestudering van posseëls, koeverte, stempels, watermerke en ander posverwante materiaal. Hoewel minder briewe gepos word en die Suid-Afrikaanse Poskantoor ernstige uitdagings beleef, het die belangstelling in seëls nie verdwyn nie, maar eerder van aard verander.

Die stokperdjie het in ’n gespesialiseerde nismark, digitale gemeenskap en alternatiewe beleggingsveld ontwikkel. Skaars en geskiedkundige seëls word internasionaal hoog aangeslaan en kan asemrowende pryse op veilings behaal, terwyl aanlyn platforms versamelaars wêreldwyd met mekaar verbind.


Die wêreldmark vir seëlversamelings word in 2026 op sowat $4 miljard geraam. Van die waardevolste items is miljoene rande werd, waaronder die British Guiana 1c Magenta van 1856, waarvan net een bestaan en wat in 2014 vir $9,48 miljoen verkoop is.

Suid-Afrika het ook besonderse filateliese skatte, waaronder die Kaapse Driehoeke in verskillende kleure. Dit was die wêreld se eerste driehoekige posseëls en is deur Charles Bell, landmeter-generaal aan die Kaap, ontwerp. Ongebruikte eksemplare in goeie toestand het aansienlike versamelwaarde.

Skaarsheid, drukfoute, toestand, oorspronklike gom, perforasie, stempels, watermerke en die sentrering van die ontwerp bepaal ’n seël se waarde. Omgekeerde afbeeldings, verkeerde kleure en setfoute kan ’n gewone seël in ’n gesogte versamelstuk verander.

Die duurste seël ter wêreld wat vir meer as R100 miljoen deur Sotheby’s opgeveil is. Foto verskaf

Koos de la Rey van Parys, ’n toegewyde seëlversamelaar, sê seëls is ’n uitsonderlike bron van kennis en geskiedenis. Sy temaversameling, asook dié van ’n mede-Parysenaar, sal vanjaar op die Sasolburg-uitstalling vertoon word.

“Seëls dokumenteer konings, koninginne, beroemde mense, kuns, oorloë, revolusies, politieke figure, die natuur, kultuur, wetenskap en tegnologie. Dit is ’n waardevolle opvoedkundige hulpmiddel wat die verlede op ’n tasbare manier lewend maak,” sê De la Rey.

Seëls word volgens tema uitgestal. Foto verskaf

Hy meen talle mense het seëls in bokse of kaste waarvan hulle min weet. Van dié versamelings kan unieke of skaars eksemplare bevat, en eienaars besef moontlik nie hoeveel geskiedenis, kennis of geldwaarde daarin opgesluit lê nie.

Leon Jacobsen, voorsitter van die Sasolburgse Filatelievereniging, sê lede soos De la Rey, Trevor Harris en Sannette Buys sal tydens die uitstalling vrae oor versamelings beantwoord. Besoekers kan seëls saambring wat jare lank in bokse gebêre is en meer oor hul moontlike waarde uitvind.

“Die waarde wissel van goedkoop items tot skaars seëls wat miljoene rande werd kan wees, veral dié met drukfoute. Die soort papier, perforasie, stempels en watermerke het alles ’n invloed op die waarde,” sê Jacobsen.

Skaars seëls word toenemend deur beleggers as ’n alternatiewe bateklas beskou. Hul waarde word nie noodwendig deur daaglikse aandelemarkskommelings geraak nie, hoewel kennis, versigtige bewaring en deskundige beoordeling noodsaaklik is voordat ’n versameling as belegging aangekoop word.

Die uitstalling kan van 27 tot 31 Julie tussen 09:00en 16:00 in die Sasolburgse openbare biblioteek besigtig word. Toegang is oop vir alle belangstellendes, waaronder skoolgroepe. Rig navrae aan De la Rey by 082 638 6947 of Jacobsen by 083 389 8647.

OFM Nuus/Susan Maré sm

•Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.