On Now
Weekdays 18:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Entertainment

Potchefstromer se klavierkomposisie wen wêreldtitel in VSA

───   SUSAN MARÉ 13:47 Fri, 07 Aug 2026

Potchefstromer se klavierkomposisie wen wêreldtitel in VSA | News Article
Nico Smit bespeel eerste viool in die Noordwes-Universiteit se simfonieorkes. Foto verskaf

’n Gr. 11-leerling van Potchefstroom se klavierkomposisie is op ’n internasionale kompetisie in die VSA as ’n afdelingwenner aangewys.

Nico Smit se komposisie vir twee klaviere, Great Galloping Waves, is die algehele Grand Prize-wenner in die afdeling vir instrumentale komposisie (14-18 jaar) op die Uitvoerende Kunste Wêreldkampioenskap in Las Vegas. Die leerling aan Potchefstroom-Gimnasium (Gimmies) het die perfekte punt van 100% behaal en is die topwenner van deelnemers uit 15 lande.

Nico is ’n veelsydige musikant en het op nege jaar komposisielesse by dr. André Oosthuizen van die Noordwes-Universiteit (NWU) ontvang. Hy bespeel die viool (sy eerste instrumentkeuse), klavier en orrel, sing in die Gimmie-koor, en vertolk een van die hoofrolle in Gimmies se musiekblyspel. 

Veelsydige kunstenaar

Boonop is hy die konsertmeester van die Noordwes-Jeugorkes en is die afgelope drie jaar ’n eerste violis in die NWU se simfonieorkes.

As deel van Gimmies se G-Arté leef Nico hom ten volle uit as ’n veelsydige kunstenaar. Hy het aan OFM Nuus gesê G-Arté is ’n versameling van al die kuns en kultuur wat by die skool aangebied word. Die komitee en organiseerders doen baie moeite om aan leerlinge geleenthede te bied. Nico werk aan sy finale eksamen van die Associated Board of the Royal Schools of Music in viool en klavier. Sy gunstelingvakke is lewenswetenskappe, visuele kunste, Afrikaans en Engels (albei huistaal) en wiskunde. Hy gaan verder studeer in musiek en sal graag ’n loopbaan in musiekkomposisie volg.

Vreugde is vir hom om saam met briljante musikante musiek te maak en te kuier. Hy doen graag navorsing oor ander kunsvorms soos die visuele kunste en teater. Soms speel hy ook videospeletjies saam met vriende. 

Oor sy inspirasie vir Great Galoping Waves, sê hy: “My doel was om musiek te komponeer wat verskillende gemoedstoestande van die oseaan uitbeeld. Ek het ook inspirasie geneem van die Griekse mitologie, spesifiek die verhaal waar die seegod Poseidon perde van branders en seeskuim geskep het.

Leermeester

“Ek het die heeltyd beelde in my kop van water gehad. Borrelende water, helderblou swembadwater, golwe en branders. Ek het ook aan seeperdjies gedink – met die twee klaviere wat twee karakters voorstel wat met mekaar in die water speel.”

Hy dink elke musiekstuk en komponis waarna hy luister is in ’n geestelike sin sy leermeester. “Sélfs die komponiste en kunstenaars van wie ek nié hou nie. Ek luister na musiek en vra myself af – hoekom hou ek hiervan? Hoekom het die komponis hierdie stuk op hiérdie manier geskryf? Hoe kan ek die metodiek toepas in my stukke?

“Om die werke van ander te bestudeer is die beste manier om jou eie stem te vind. Nie omdat jy hulle namaak nie, maar om op hulle werk te innoveer. Om te komponeer is die enigste manier hoe ek my emosies en denke volwaardig kan uitdruk.”

Nico saam met sy ouers, Trudie en prof. Nico Smit van die NWU. Foto verskaf

As komponis geniet hy die navorsingstadium van al sy stukke, soos om artikels en boeke te lees en verskillende mediaplatforms te besoek. Hy is lid van Cape Young Composer’s Society (CYCS) waar die lede passievol is oor wat hulle doen en baie ondersteunend is teenoor alle jong komponiste.

Sy raad aan ander jong musiekstudente is: “Luister verskriklik baie musiek, bestudeer bladmusiek totdat die note by jou ore uitvloei, lewe ’n kleurvolle lewe en skryf musiek oor dit.”

Nico sê sy hardkoppigheid is die rede vir sy sukses in die internasionale kompetisie. “Dit is maklik om met ’n projek te begin, maar om tot by die heel einde by jou idee te staan en vir dit te veg is wat na uiteindelike sukses lei.”

Nico Smit, violis van Potchefstroom Gimnasium . Foto verskaf

“Al wat jy moet doen, is om liggies op jou tande te kners en aan te hou totdat die projek weer pret is.”

Die aantal ure wat hy per dag oefen, wissel baie vanweë akademiese en ander verantwoordelikhede. Buite skooltyd bestee hy die grootste deel van sy dag aan musiek. Hy droom selfs oor musiek, sê hy.

Rosemary Fouché, kultuurhoof van Gimmies, sê sy het in haar onderwysloopbaan van 38 jaar nog nie so ’n presteerder in kompetisies gesien nie.

“Vir ons by Gimmies is Nico ’n rugsteun. Hy neem aan alles deel en wanneer hy viool, orrel of klavier speel, is die gehoor altyd waarderend. Ons is dankbaar vir al Nico se prestasies en as kultuurdepartement is ons geseënd met ongelooflike talent en onderwysers. 

“Hier by ons is kunste vir seker onder die vaandel van die holistiese ontwikkeling van ’n leerder.”

OFM Nuus/Susan Maré sm/dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.