On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Food

‘Get Wise Wednesday’: Lees jou kos-etikette noukeurig

───   12:39 Wed, 13 Aug 2025

‘Get Wise Wednesday’: Lees jou kos-etikette noukeurig | News Article
Foto ter illustrasie: Getty Images

Kosverpakking gee nie net inligting oor wat in ’n produk is nie, maar dien ook as ’n bemarkingsinstrument wat verbruikers kan beïnvloed.

Só sê dr. Mariaan Wicks, senior lektor in voedsel- en dieetkunde aan die Noordwes-Universiteit. Sy raai verbruikers aan om nie blindelings op slagspreuke soos “GMO-vry” (vry van geneties gewysigde organisme), “glutenvry” of “suikervry” staat te maak nie, maar self die bestanddele en voedingswaardetabel te bestudeer.

Bestanddele verklap baie

Volgens Wicks word die bestanddele in volgorde van hoeveelheid gelys. “As suiker eerste of tweede verskyn, weet jy die produk is hoog in suiker.” Onbekende chemiese name en E-nommers is dikwels ’n teken van hoogs verwerkte kos met baie sout, suiker en preserveermiddels.

In die voedingswaardetabel moet verbruikers die waardes vir suiker, versadigde vet en sout (natrium) nagaan en produkte met die laagste vlakke kies. Wicks herinner verbruikers daaraan dat 5 g suiker gelykstaande is aan een teelepel – ’n produk met 15 g suiker per 100 g bevat dus drie teelepels suiker.

Verval- en gebruiksdatums verskil

Die gebruiksdatum dui op die tydperk waarin ’n produk sy beste smaak en hoogste gehalte het, terwyl die vervaldatum waarsku wanneer dit nie meer veilig is vir verbruik nie. “ ’n Verstrekte vervaldatum verhoog die risiko vir voedselverwante siektes aansienlik, veral met vars vleis, suiwel en reeds voorbereide kosse.”

Berging speel ’n rol

Beskadigde verpakking, lekkasies of duike is ’n teken om ’n produk te vermy. Vars produkte wat verkoeling vereis, moet in die yskas gehou word – met vleis, groente en vrugte apart en die koudste items op laer rakke. Party produkte, soos tamatiesous met ’n hoë soutinhoud, kan volgens Wicks veilig in ’n koel, droë plek buite die yskas geberg word, mits die vervaldatum dopgehou word.

Wicks se raad: “Lees jou etikette, wees bewus van wat jy koop, en bêre kos op die regte manier – dit kan jou gesondheid beskerm én jou sak spaar.”

OFM cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.