On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Health

Alles wat in jou medisynesak moet wees as jy met kinders reis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:44 Thu, 13 Jun 2024

Alles wat in jou medisynesak moet wees as jy met kinders reis | News Article
Foto: Ventria

“Die truuk is om een soort medisyne vir elke kwaal te kies.”

Dit is amper weer skoolvakansie en talle mense sal op die pad en met vakansie wees.

As jy wonder wat om in jou medisynetas vir die kinders te pak, is jy nie alleen nie. Die geheim is om een soort medisyne vir elke moontlike kwaal te kies.

Dr. Chantelle van der Bijl, ook bekend as Bloem MomDoc op sosiale media, gee ’n omvattende gids om jou te help om effektief te pak.

“Vir pyn en koors moet parasetamol (Panado/Calpol) jou eerste keuse wees.” 

Dis geskik vir gebruik by kinders vanaf net drie maande. “Deur parasetamol saam met ander pynmedikasie te gee, versterk dit die werking; so jy sal ’n beter reaksie van albei kry.”

Foto: MedicalNewsToday

Sy stel ook Panado-babadruppels voor. Dis ’n goeie opsie omdat dit ’n meer gekonsentreerde vorm van die gewone Panado is, wat minder vloeistof nodig het met dieselfde konsentrasie. “Vir kinders jonger as drie maande, raadpleeg jou huisdokter voordat dit toegedien word.”

Neurofen, Ibuprofen of Ponstel is ook goeie opsies vir pyn- en koorsverligting, maar dit moet eers vanaf ses maande gegee word. “Wees versigtig – as jou kind dehidreer, kan dit nierskade veroorsaak,” voeg sy by.

“Panamor-setpille, wat dieselfde klas bestanddele as Neurofen en Ponstel bevat, kan gebruik word as jou kind nie orale medisyne kan inhou nie, hoewel dit nie doeltreffender as stroop is nie,” sê Van der Bijl. Sy voeg by dat Empaped-setpille parasetamol bevat en ’n rugsteun is vir jou kind wat nie medisyne mondelings kan inneem nie.

Panamor-setpille. Foto: MedicalNewsToday

“Moenie vergeet om ’n termometer in te pak om jou kind se temperatuur te monitor nie.”

Vir allergieë en bytplekke is Allecet of Cetrizine-stroop ’n goeie antihistamien, ook vir loopneuse, wat nie jou kind lomerig sal maak nie, is Van der Bijl se raad.

“Dit is verkieslik bo Allergex, wat ’n kalmeermiddel is, en drie keer per dag gegee moet word. Sommige ouers verkies egter Allergex snags vanweë die kalmerende effek daarvan. ’n Dazit-neussproei is nuttig vir toe neuse wat deur allergieë veroorsaak word, want ’n mens weet nooit watter allergieë jy dalk met vakansie sal teëkom nie.”

Foto: Dischem

Wanneer ’n kind ’n loopneus het, stel sy voor dat Sinumax Ped of Demazin gebruik kan word, maar omdat dit parasetamol bevat, moet gewone parasetamol nie ook gegee word nie. “’n Soutneussproei soos Stérimar of Flo Baby is ideaal om verstopte, toe neuse skoon en oop te maak, maar moet dit egter nie langer as drie tot vyf dae gebruik nie om afhanklikheid en verergerende opeenhoping te vermy.”

Vir hoes is Bronkese, Linctopent of Bisolvin ’n goeie hoesstroop om slym los te maak, en ACC200 is nuttig vir dieselfde doel, sê Van der Bijl.

“Wat wonde en beserings betref, is Bactroban-salf noodsaaklik vir snye wat die risiko van ontsteking kan inhou, maar dit moet nie gereeld gebruik word om weerstand te vermy nie.

“Pleisters met oulike karakters kan enige eina beter maak, terwyl Burnshield Emergency Burn Care en Silbecor Ointment deurslaggewend is vir die behandeling van brandwonde. SteriStrips is nuttig vir klein snye wat te diep is vir eenvoudige pleisters, maar nie steke benodig nie.”

Foto: Clicks

Hoewel ’n bak sout nuttig is om met water te meng om wonde skoon te maak, moet die gebruik van ontsmettingsmiddels soos Savlon en Dettol vermy word, aangesien dit kan brand en wondgenesing kan voorkom, waarsku sy.

“Vir maagprobleme is Lacson stroop ’n veilige lakseermiddel vir kinders, terwyl Smecta of Tasectan dien as ’n sametrekkende middel vir diarree. Dit is veilig vir kinders aangesien dit nie diarree stop nie, maar dit eerder bind,” verduidelik Van der Bijl.

Valoid-setpille kan gebruik word vir naarheid as jou kind alles braak en is geskik vanaf die ouderdom van ses jaar oud. Dis ook goed vir naarheid en kan gebruik word vir reissiekte op lang motorreise, is nuttig vir maagkrampe en kan van ’n maand oue baba en ouer gebruik word.

Rehidreer-oplossings is belangrik vir gevalle van diarree, hoewel die jongste navorsing daarop dui dat die beste vloeistof om saam met diarree te gee, die kind se gereelde melk aangevul met ekstra hidrasievloeistof is.

Foto: eBay

Vir enige uitslag stel sy Anthisan- of Allergex-salf voor omdat dit effektief is vir alle jeukerige muskiet- en insekbyte, terwyl ’n steroïedroom op kort termyn gebruik kan word vir ’n hardnekkige uitslag.

“Sonsorg is noodsaaklik,” sê sy; “so pak Cetaphil Daylong kids, ’n dermatologies aanbevole sonskerm vir babas en kinders, en After-Sun vir die behandeling van sonbrand in.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.