On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Inspiration

Sondag word Konsentrasiekampdag herdenk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:39 Fri, 14 Jun 2024

Sondag word Konsentrasiekampdag herdenk | News Article
Foto: monument-sa.co.za

“Die herdenking van 16 Junie is fundamenteel ’n verhaal van hoop.”

Op 16 Junie, hoofsaaklik bekend as Jeugdag, vind nóg ’n belangrike herdenking plaas: Konsentrasiekampdag. Die FAK-Kultuurnetwerk het die afgelope vier jaar hierdie dag met ’n spesiale geleentheid by die Vereeniging-Konsentrasiekampbegraafplaas gevier.

Jan-Danie Malan, die FAK se kultuurkoördineerder in die Vrystaat, deel die planne vir die 2024-herdenking, wat beloof om onvergeetlik te wees met die betrokkenheid van verskeie kultuurorganisasies soos die FAK, Volkspele, GGSA-Vaal, Die Voortrekkers, SAWV, Monumentjagters, Geloftevolk, AfriForum en Dundee Diehards.

Vanjaar word Konsentrasiekampdag op Sondag (16/6) vanaf 10:00 in Vereeniging by die Konsentrasiekampbegraafplaas gevier met ’n kort diens en program.

Vroue en kinders het hul lewe opgeoffer. Foto: monument-sa 

“Ons begin die dag met ’n vlagseremonie en ’n oomblik van stilte om die slagoffers van die konsentrasiekampe en die Anglo-Boereoorlog te vereer,” sê Malan.

“Hierdie dag het ’n spesifieke betekenis vir ons. Dis vir die vroue en kinders wat hul lewe opgeoffer het in die strewe na vryheid. Vryheid vir ’n volk, en baie keer het die vroue die mans aangemoedig om nie tou op te gooi nie, maar om aan te hou baklei tot die bitter einde.”

Malan beklemtoon die diepgaande betekenis van hierdie dag. “Hierdie dag het ’n verskriklike diep betekenis vir ons. Ons kom bymekaar in samewerking met die Vaal-kultuurnetwerk. Almal kry ’n rol, en ons tree op as leke-akteurs.

Kinders het in die konsentrasiekampe gesterf. Foto: monument-sa.co.za

“Dit is heerlik om weer ons tradisionele klere te dra en hierdie geskiedenis te deel. Dit was ’n ontstellende tyd vir ons mense, maar ook ’n bron van hoop. Ons voorvaders het weer opgestaan, hul lewe herbou en Suid-Afrika weer groot gemaak.”

Gedurende die dag se gebeure sal ’n paar Britte wat in die streek bly ook deel wees van die herdenking. “Die Britte sal die rol speel van diegene wat die vroue en kinders na die kampe aangery het,” verduidelik Malan. Tente sal opgeslaan word en oudhede uit daardie era sal vertoon word, sommige eg en sommige replikas.

“Ons gaan drie doringbome plant, en Jan FE Cillé se gedig oor die doringboom sal voorgedra word. Ons optrede is bedoel om mense hul wortels, hul geskiedenis en hul verbintenisse met ander mense in Suid-Afrika te laat onthou.”

Britte sal deel uit maak van die dag se verrigtinge. Foto: monument-sa 

Aangesien hierdie jaar se herdenking op ’n Sondag val, sal ’n prediker ’n Christelike boodskap lewer, wat die geestelike ondersteuning wat geestelikes in die kampe gebied het, weerspieël.

“In elke konsentrasiekamp was daar altyd ’n preeksteen. Die geestelike kant was altyd teenwoordig. Ons wil hierdie geskiedenis deurgee en almal herinner dat daar selfs deur die ergste tye ’n God is wat oor ons waak,” sê Malan.

Die herdenking van 16 Junie is fundamenteel ’n verhaal van hoop. “Ons voer hierdie toneel op sonder enige formele repetisies en maak staat op kommunikasie via e-pos en WhatsApp. Almal oefen by die huis en ons kom in goeie trou bymekaar.

Die herdenking is fundamenteel ’n verhaal van hoop. Foto: monument-sa 

“Die terugvoer was oorweldigend met mense wat van oral oor bygewoon het. Ons waardeer die belangstelling in ons geskiedenis en die feit dat dit vir baie relevant en belangrik bly.”

Vanjaar se Konsentrasiekampdag beloof om ’n aangrypende en verrykende ervaring te wees wat die opofferings van die verlede eer en ’n gevoel van hoop en veerkragtigheid vir die toekoms kweek.

OFM Nuus/Charné van der Merwe dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.