International
Treffende foto’s wen harte in Reisfotograaf-kompetisie─── 17:24 Mon, 13 Feb 2023
Fotograwe van 154 lande het in 2022 meer as 20 000 foto’s vir die Reisfotograaf van die Jaar-wedstryd, waarvan die wenners onlangs aangewys is, ingeskryf.
Die wenner, Matjaz Krivic van Slowenië, is as die algehele wenner aangewys. Hy het onder meer die foto van die 33-jarige Najin, een van die laaste twee noordelike witrenosters geneem waar sy saam met haar opsigter, Zachary Mutai in die Ol Pejeta-bewarea in Kenia rus.
Die noordelike witrenoster is bykans uitgestorwe met net twee bejaarde wyfies wat nog oor is. Hul kunsmatig bevrugte eiers word in 'n Italiaanse laboratorium bewaar in die hoop dat surrogaatrenosters van 'n ander subspesie die noordelike witrenoster van totale uitwissing kan red.
Krivic neem reeds sedert die kompetisie in 2003 begin het, deel. "Nou, 20 jaar later, het ek die hoogste toekenning ontvang, wat my baie trots maak en baie vir my beteken," sê hy. "Reis en fotografie is my passie en 'n groot deel van my lewe vandat ek kan onthou, en hierdie toekenning inspireer my om met my reis voort te gaan."
Al die weninskrywings is aanlyn in die wennersgalery te sien.

Scott Portelli van Australië het ‘n spesiale vermelding ontvang vir dié inskrywing van Adelie-pikkewyne wat skuiling in ‘n ystonnel vind. Dit verskyn in sy Groen Planeet, Blou Planeet-portefeulje.

Jaroslav Hora van die Tsjeggiese Republiek is die wenner van die Woestyn tot Reënwoud-portefeulje, wat onder meer dié treffende foto van die Namib-woestyn bevat.

Dana Allen van die Verenigde State is die naaswenner in die Kuns van Monochrome-portefeulje met dié foto van ’n olifant in die Hwange-nasionale park in Zimbabwe.
