International
Amazon se Zoox toets selfbesturende robotaxi op openbare pad─── 16:54 Tue, 14 Feb 2023
Amazon se selfbesturende robotaxi, Zoox, is die afgelope naweek suksesvol op ‘n openbare pad in Kalifornië getoets, met werknemers as passasiers.
Die maatskappy toets al sedert verlede jaar die voertuig op semi-private paaie in Kalifornië. Hierdie naweek was die eerste keer dat die voertuig passasiers op openbare paaie vervoer het.
Dit bring dit ‘n stappie nader om dié selfbesturende voertuig as kommersiële diens aan die algemene publiek bekend te stel.
Die toets was deel van die bekendstelling van 'n gratis pendeldiens vir werknemers wat ook die maatskappy sal help om sy tegnologie te verfyn.
"Om die voertuig op 'n openbare pad te plaas is 'n groot stap en ons sou dit nie gedoen het nie tensy ons beoog om dit kommersieel aan te wend ," het die uitvoerende hoof, Aicha Evans, aan verslaggewers gesê.
Reuters berig dat die bedryf se outomatiese voertuigsegment nie so vinnig uitgerol het as wat aanvanklik verwag is nie omdat die tegnologie moeilik is om te bemeester. Ford Motor en Volkswagen AG het verlede jaar aangekondig dat hulle hul Argo AI-selfbestuur-afdeling sluit om eerder op bestuurderbystandstegnologie te fokus wat meer onmiddellike opbrengste verskaf.
Zoox se robotaxi word as 'n ten volle outonome voertuig van nuuts af gebou, eerder as om bestaande motors vir selfbestuur aan te pas. Die voertuig het nie ‘n stuurwiel of pedale nie en het plek vir vier passasiers, met twee wat na mekaar kyk.
Die robotaxis sal aanvanklik slegs vir Zoox-werknemers beskikbaar wees en 'n pendeldiens tussen twee van die maatskappy se geboue verskaf, berig TechCrunch.
“Dit klink eenvoudig, maar dit is nie. Dit is 'n komplekse roete,” sê Evans. Volgens haar het die roete regs- en linksdraaie, verskeie verkeersligte, voetgangers en fietsryers en moet die taxi ook 'n parkeerterrein navigeer en tweerigtingdraaie maak.
Amazon het Zoox in 2020 vir $1,3 miljard aangeskaf.
