On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

International

Aardbewing tref Nieu-Seeland kort ná sikloon Gabrielle

───   14:43 Wed, 15 Feb 2023

Aardbewing tref Nieu-Seeland kort ná sikloon Gabrielle | News Article

'n Aardbewing het die Noord- en Suid-eiland in Nieu-Seeland geskud, dae nadat sterk winde en swaar reën van die kragtige sikloon Gabrielle verwoesting gesaai het.

Die sikloon het paaie onbegaanbaar gemaak, huise het ineengestort en kragtoevoer na Nieu-Seeland se Noord-eiland is onderbreek – die tuiste van meer as 'n driekwart van die land se vyf miljoen inwoners. 

Die 6,1-aardbewing is op die eilande gevoel en kom enkele dae nadat ’n nasionale noodtoestand vir slegs die derde keer sedert die Christchurch-aanvalle in 2019 en die Covid-19-pandemie afgekondig is.

Daar is nog geen ongevalle aangemeld ná Woensdag se aardbewing nie. Verskeie huise het ineengestort en is in modder begrawe. Sommige mense is steeds op hul dakke vasgekeer, aangesien die redding bemoeilik word deur gebarste paaie, bome wat paaie versper, en geen elektrisiteit nie.

RepublicWorld.com het berig Nieu-Seelanders gebruik sosiale media om hul ontstellende ervaring oor te dra ná die aardbewing. Sommige inwoners het dit beskryf as die "hardste, sterkste, mees vreesaanjaende" aardbewing wat hulle in jare gevoel het.


GeoNet sê die aardbewing het om 19:38 ongeveer 50km noordwes van Paraparaumu op 'n diepte van 48km plaasgevind. Die skudding is as sterk geklassifiseer.

Meer as 60 000 Kiwi's het volgens die amptelike GeoNet-webwerf die aardbewing gevoel, insluitend mense in Auckland en Christchurch. Een inwoner het dit as 'n rollende sensasie, in teenstelling met rukbewegings beskryf.

Die Nasionale Noodbestuursagentskap het inwoners gerus gestel dat daar geen tsoenami-bedreiging is nie. Naskokke kan egter verwag word.

"Dit was soos 'n goederetrein wat verby ons huis gejaag het," het David Haxton, wat in Raumati Beach woon, oor die aardbewing gesê. “Ek, my vrou en ons twee kinders het vinnig onder 'n deuropening bymekaargekom en gewag dat die skudding bedaar. Dit het gevoel asof dit sowat 30 sekondes aangehou het. Almal het hartkloppings gehad."

Newstalk ZB se hoof politieke verslaggewer, Aaron Dahmen, in Wellington, het gesê "die hele huis het vir ongeveer 30 sekondes aggressief geskud. ’n Gedreun het vir ’n geruime tyd gevolg.”

ZB se Nick James, ook in die hoofstad, het gesê dit het "items in my woonstel nogal erg geskud. My woonstelgebou het van kant tot kant geswaai vir 'n goeie 30 sekondes".

Minstens een vlug vanaf Auckland kon ná die aardbewing nie in Wellington land nie.

"Asof 'n sikloon nie genoeg is nie, is Wellington nou deur 'n aardbewing ook getref," het die kaptein aan passasiers gesê. Hulle het in die lug gesirkel terwyl die aanloopbaan vir enige skade nagegaan is en hulle kon land.

Militêre helikopters het gestrande slagoffers Woensdag ná sikloon Gabrielle na veiligheid in Nieu-Seeland gebring. Vier mense is oorlede en nog 10 500 is verplaas.

Met die storm wat nou in die Suid-Stille Oseaan vervaag het, het reddingspanne uiteindelik streke bereik wat afgesny was ná dae van stortreën en stormwinde.

Die Nieu-Seelandse weermag het drie NH90-helikopters op verkennings- en reddingsvlugte na die swaar-geteisterde Hawke's Bay-gebied ontplooi.

Met die selfoonnetwerk wat ontwrig is, het die polisie meer as 1 400 verslae ontvang van mense wat steeds “onopspoorbaar” is.

Ná die sikloon het Chris Hipkins, premier van Nieu-Seeland, gesê: "Ons verwag dat die oorgrote meerderheid van hierdie mense opgespoor sal word, maar daar word verskeie mense vermis en dit bekommer die polisie."

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.