On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

International

Skokwending: Polisie in Paraguay sê oud-Vrystater is tereggestel, sluit afpersing uit

───   MORNÉ VAN ROOYEN 08:26 Sat, 18 Feb 2023

Skokwending: Polisie in Paraguay sê oud-Vrystater is tereggestel, sluit afpersing uit | News Article
Oud-Vrystater Danie Coetzee.

Wraak oor die bepalings in sy testament was blykbaar die eintlike motief vir die moord op ’n oud-Vrystater wat skynbaar verlede naweek in Suid-Amerika ontvoer is. Paraguay se polisie sê nou hulle ondersoek sy dogter, Dané, se moontlike betrokkenheid.

Inwoners het Vrydag (17 Februarie) 5 km vanaf Danie Coetzee (65) se plaas in ’n suikerrietplantasie op sy oorskot afgekom terwyl hulle besig was om hul grond na te gaan in die distrik Independencia, suidoos van Paraguay se hoofstad, Asunción. Hy het 10 km vanaf die dorpie Melgarejo geboer.

Die poniekoerant Diario Popular berig die storie dat hy ontvoer is, was moontlik net ’n fasade vir moord omdat daar geen kommunikasie van sy vermeende ontvoerders was sedert sy eerste en enigste oproep nie. 

Die polisie sê op die oomblik is die hoofverdagte Coetzee se dogter, Dané. Sy het onlangs ’n stuk grond vir VS$300 000 by haar pa gekoop, dieselfde bedrag as die losprys, het komm. Nimio Cardozo, hoof van die polisie in Paraguay se teenontvoeringseenheid, aan Diario Popular gesê. 

’n Bron na aan die familie sê egter dis gebruiklik in ontvoeringsake dat naasbestaandes eerste ondersoek word. Volgens syfers van die webtuiste The Global Economy word slegs sowat 30 mense per jaar in Paraguay ontvoer. Die jongste ontvoeringskoers (2017) van 0,4 per 100 000 inwoners is laag vergeleke met 9,6 per 100 000 in Suid-Afrika, die derde hoogste ter wêreld, wat neerkom op meer as duisend ontvoerings per maand.

Volgens verskeie nuusdienste in Suid-Afrika sowel as Paraguay is hy deur ’n geheimsinnige Marxistiese rebellegroep ontvoer wat ’n losprys van sowat R5,4 miljoen geëis het. Hy is glo gedwing om sy vrou van sy selfoon te bel en haar daarvan in te lig, oomblikke nadat die ontvoerders op hom toegeslaan het terwyl hy Sondagaand (12 Februarie) naby sy vark-en-pluimveeplaas gewandel het.

‘Vreemd gevind dat hy nie weer kontak gemaak het om te reël vir die betaling’

Luidens berigte het hy gesê hulle moes hom maar skiet omdat hy nie die losprys kon bekostig nie. Ondersoekers in die saak het dit vreemd gevind dat hy nie weer kontak gemaak het om te reël vir die betaling sodat hy vrygelaat kon word nie. Sondagaand se oproep was die eerste en laaste vanaf sy selfoon.

Vrydag is sy liggaam in ’n toestand van ontbinding aangetref, dieselfde dag waarop bure ’n optog gehou het om sy vrylating en groter dringendheid in die polisieondersoek te eis.

Algemene kommissarisse Wilberto Sánchez en Omar Méndez (albei in kamoefleerdrag) en polisiebeamptes van Paraguay se teenontvoeringseenheid op die plek waar Danie Coetzee se oorskot in 'n suikerietsplantasie aangetref is. Foto: ABC Color

Algemene kommissarisse Wilberto Sánchez en Omar Méndez (albei in kamoefleerdrag) en polisiebeamptes van Paraguay se teenontvoeringseenheid op die plek waar Danie Coetzee se oorskot in 'n suikerietsplantasie aangetref is. Foto: ABC Color

‘Na alle waarskynlik Maandag vermoor’

Die Paraguayaanse koerant ABC Color berig hy het hemploos met sy gesig na bo op die grond gelê. Blykbaar is hy reeds op die dag van sy beweerde ontvoering met verskeie skote tereggestel, hoewel dit weens die toestand van sy oorskot moeilik is om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal. 

Diario Popular berig volgens amptelike ondersoeke en die lykskouer is hy na alle waarskynlik Maandag vermoor, en nie Sondag nie.

Cardozo het aan ABC Color gesê ontvoering vir afpersing word feitlik uitgesluit as motief vir die misdaad. Dit blyk in werklikheid ’n geval van wraak te wees wat verband kan hou met die verdeling van Coetzee se bates wat hy opgebou het tydens sy 30 jaar in Paraguay. 

Hy het in die distrik Smithfield geboer tot hy in die vroeë jare negentig uit die Vrystaat na Suid-Amerika geëmigreer het weens onsekerheid oor die situasie in Suid-Afrika tydens die politieke oorgang.

Volgens data wat ABC Color bekom het, was Coetzee van plan om sy bates te verdeel tussen sy vrou, Martie (70), en sy dogter, Dané (35), wat by hulle gewoon het. Hy was van plan om ook sy drie kinders in Suid-Afrika in sy testament in te sluit.

Coetzee het onlangs geweier om sy eiendom te verkoop toe iemand ’n aanbod gemaak het, berig ABC Color.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.