International
Vierdag-werkweek kry groen lig van Britse maatskappye─── 18:02 Tue, 21 Feb 2023
Die meeste Britse maatskappye wat aan ‘n loodsprojek van ‘n vierdag-werkweek deelgeneem het, gaan daarmee voort nadat personeel ‘n beter balans tussen werk en lewenstyl ervaar het.
Van die 61 maatskappye wat aan die ses maande-lange projek deelgeneem het, het 56 besluit om die toetslopie te verleng, insluitend 18 wat dit voortaan permanent gaan toepas, berig The Guardian.
Die bevindinge sal aan die parlement voorgelê word om politici te oortuig om alle werkers in Brittanje 'n 32 uur-werkweek te gee.
Die direkteur van die 4 Day Week-veldtog, Joe Ryle, sê dit is "groot deurbraak". Die nie-winsgewende organisasie, wat in Nieu-Seeland gestig is, het die projek in Junie 2022 in Brittanje begin.
"Oor 'n wye verskeidenheid sektore het die welstand van personeel dramaties verbeter terwyl produktiwiteit in byna elke geval óf gehandhaaf óf verbeter is.
"Ons is baie tevrede met die resultate en hopelik wys dit dat die tyd van 'n vierdag-werkweek aangebreek het."
Die hoofprodukbeampte van Rivelin Robotics, David Mason, sê hy hoop dat die aanbod van 'n korter werkweek met die toekomstige werwing van personeel sal help. "Dit is beslis iets wat ons 'n bietjie anders as die gemiddelde maak."
Maatskappye wat deelgeneem het, is werkswinkels en mentorskap aangebied om hulle te help om werkspraktyke te heroorweeg. Personeel wat vier dae pleks van vyf dae ‘n week gewerk het, het steeds hul bestaande salaris verdien.
Ongeveer 2 900 werknemers regoor Brittanje het aan die projek deelgeneem. Opnames het bevind dat 39% gesê het hulle is minder gespanne, 40% slaap beter en 54% het gesê dit is makliker om werk- en huistake te balanseer.
Die aantal siekdae wat tydens die projek geneem is, het met sowat twee derdes gedaal en 57% minder personeel het die deelnemende maatskappye verlaat, vergeleke met dieselfde tydperk 'n jaar tevore.
Die meerderheid maatskappye sê hulle was tevrede met die mate van produktiwiteit en besigheidsprestasie oor die proeftydperk.
“Ons sal graag wil sien dat baie meer werkgewers dié stap neem. Die ekonomie het nie nodig dat ons meer vyf dae per week werk nie. 100 jaar gelede het ons verskuif na ‘n vyfdag-werkweek en die ekonomie het sedertdien getransformeer,” sê Ryle.
